Update
OUDTSHOORN NUUS - 'n 17-jarige wat aan roof skuldig bevind is, is verlede week in die Oudtshoorn-streekhof vir nege maande na 'n jeugsentrum verwys terwyl sy medebeskuldigde, 'n 33-jarige man, 'n boete opgelê is vir die besit van 'n gevaarlike wapen en verset teen arrestasie.
Die saak teen Marques Roman (33), en die jeugdige spruit uit 'n voorval in Augustus 2019 in Dassieweg, Bridgton, toe die seun vir Mary-Ann van Sensie helder oordag en ten aanskoue van verskeie mense met 'n mes gedreig, geskop en beroof het van 'n musiekboks.
Die aanklag van roof teen Roman, wat saam met hom was, is deur die staat teruggetrek.
Roman se regsverteenwoordiger, adv. Benito Metembo, het die hof vir boetestraf gevra omdat die beskuldigde skuldig gepleit en nie die hof se tyd gemors het nie.
Hy besef dat hy aan ernstige misdrywe skuldig bevind is en verantwoordelikheid daarvoor neem.
Die klaer het geen beserings opgedoen nie en alhoewel hy vorige veroordelings het is nie een relevant nie.
Die jeugdige se regsverteenwoordiger, Vaughn Shone, het die hof gevra om die aanklagte teen hom vir vonnis saam te neem. Streeklanddros Sylvia Mandla, het Roman 'n boete van R1 000 of ses maande gevangenisstraf opgelê wat in geheel vir drie jaar opgeskort is.
Vorige artikel: Jeugdige rower verwys na jeugsentrum
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'