Update
OUDTSHOORN NUUS - "Die munisipale gebou sal gesluit wees tot die amptenare vir ons mense werk gee. Geen dienste sal gelewer word nie."
Dit was die woorde van ongelukkige Dysselsdorpers na hulle reeds 'n geruime tyd werk deur die munisipaliteit belowe word.
Dinsdag was die tweede agtereenvolgende dag wat hulle die munisipale gebou toegemaak het en geweier het dat amptenare werk.
Volgens Shirley Lewis, een van die ongelukkige inwoners, sal dit die geval bly tot die munisipaliteit vir hulle werk gee.
"Die hekke word net oopgemaak sodat die poskantoor kan oop wees en die mense hul Sassa-gelde kan kry. Daarna sluit ons dit weer met ons eie kettings en geen amptenaar sal toegang kry nie."
Volgens haar wag hulle eintlik sedert verlede jaar vir werk, maar weens Covid-19 is dit uitgestel.
"Hulle het aan 75 mense hier werk belowe. Dis nou al die laaste drie maande verskonings. Ons moes aanvanklik 1 September begin werk het."
Lewis sê sy en die gemeenskap is moeg om te baklei vir werk.
"In Oudtshoorn word groot groepe mense aangestel, maar nooit hier nie. Ons moet altyd baklei en dit is nie regverdig nie. Ons dorp gaan agteruit en niemand gee om nie."
Volgens David de Villiers, nog 'n inwoner, het hulle onlangs ook 'n memorandum met griewe aan die amptenare per hand en per e-pos oorhandig.
"Ons is vreedsaam. Ons breek nie af nie, ons brand nie af nie, en hulle steur hulle steeds nie. Ons het hulle meer as genoeg kans gegee om te antwoord op ons e-posse en dit gebeur ook nie. As ons afbrand en baklei dan is ons ook verkeerd, maar hoe moet ons maak as ons betaal vir dienste wat ook nie gelewer word nie."
Oudtshoorn Courant het 'n navraag aan die munisipaliteit gestuur. Hoewel die volledige navraag nie beantwoord is nie, het Chris Macpherson, die burgemeester van die Groter Oudtshoorn, gesê: "Daar gaan van Dinsdag af meer as 200 werksgeleenthede geskep word vir al die mense wat hulle name op die databasis geplaas het vir die EPWP-program. Dysselsdorpers sal 'n gedeelte daarvan kry. Daar sal weer vroeg volgende jaar nog meer as 200 soortgelyke werksgeleenthede geskep word."
Die ontevrede inwoners Dinsdag voor die Dysselsdorp-munisipaliteit. Foto: Liezl van Niekerk
Vorige artikel: Dysselsdorpers sluit munisipale gebou
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'