Gallery Update
OUDTSHOORN NUUS - Gemeenskapslede het Dinsdag bande aan die brand gesteek en die paaie in Wyk 4 (naby die Plate) en Wyk 8 (by die vierrigtingstop in Siyabongalaan) versper as gevolg van beloftes oor werk wat die munisipaliteit glo nie na gekom het nie.
Die ontstoke inwoners het voertuie verhoed om in die pad te ry en het taxidrywers en ander bestuurders gedwing om om te draai en 'n ander roete te ry.
Die polisie was vinnig op die toneel en het dadelik met bemiddeling tussen die inwoners en die munisipaliteit begin.
Volgens een van die betogers Aphiwe Majola, het 'n amptenaar van die munisipaliteit Maandag aan hulle belowe dat nuwe persone aangestel sal word om in die wyke te begin skoonmaak.
Dit het egter nie gebeur nie.
"Ons wag al drie weke dat die nuwe mense aangestel word. Ons het almal kinders by die huis.
"Ons verstaan dat die mense wat nou skoonmaak ook gesinne het om voor te sorg, maar as hulle beurt verby is moet hulle ons ook mos kans gee.
"Ons wil ook graag aan ons gesinne voorsien," het hy gesê.
Ontstoke inwoners het Dinsdag bande in Siyabongalaan gebrand.
Volgens hom het van die kontrakteurs wat aangestel is om in die wyke skoon te maak gesê dat hulle nie nuwe werkers gaan aanstel nie.
Na ongeveer 'n uur het die betogers die versperrings uit die pad gehaal en Jack de Beer, 'n munisipale amptenaar, het die gemeenskap onder die toesig van die polisie toegespreek.
Hy het hulle belowe dat die kontrakteurs wel nuwe skoonmakers sal aanstel en dat die mense wat op die data-basis geregistreer is ook 'n beurt sal kry.
Lees 'n verwante artikel: Betoging in Bongolethu
ARTIKEL & FOTO'S: LIEZL VAN NIEKERK, OUDTSHOORN COURANT-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'