Gallery
OUDTSHOORN NUUS - Gemeenskapslede het vandag bande aan die brand gesteek en die paaie in Wyk 4 (naby die Plate) en Wyk 8 (by die vierrigtingstop in Siyabongalaan) versper as gevolg van beloftes oor werk wat die munisipaliteit glo nie na gekom het nie.
Volgens een van die betogers het 'n amptenaar van die munisipaliteit gister aan hulle belowe dat nuwe persone vandag aangestel sal word om in die wyke te begin skoonmaak.
Dit het egter nie gebeur nie.
"Ons wag al drie weke dat die nuwe mense aangestel word. Ons het almal kinders by die huis. Ons verstaan dat die mense wat nou skoonmaak ook gesinne het om voor te sorg, maar as hulle beurt verby is moet hulle ons ook mos kans gee. Ons wil ook graag aan ons gesinne voorsien," het een van die gemeenskapslede gesê.
Die polisie was vinnig op te toneel en het gereël dat die paaie weer vir verkeer oopgestel word. Een van die munisipale amptenare het ook met die gemeenskap gesels.
"Julle kan môreoggend weer hier bymekaar kom. Daar sal werk wees vir julle.
Dalk nie vir die hele groep nie, maar daar sal van julle wees wat môre sal kan werk," het hy gesê.
Gemeenskapslede het vandag bande aan die brand gesteek en die paaie in Wyk 4 (naby die Plate) en Wyk 8 (by die vierrigtingstop in Siyabongalaan) versper.
ARTIKEL & FOTO'S: LIEZL VAN NIEKERK, OUDTSHOORN COURANT-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'