OUDTSHOORN NUUS - Johannes (Coby) Fredericks, 'n geliefde inwoner van Oudtshoorn, lê tans in die intensiewesorgeenheid in George na hy op 10 Oktober in Petunialaan deur 'n bakkie raakgery is.
Volgens sy suster, Marilyn le Roux, is hy oorgeplaas na George-hospitaal omdat sy beserings te ernstig was.
"Ons is nog nie seker hoe die ongeluk gebeur het nie. Hy is onder sedasie geplaas omdat hy soveel pyn gehad het. Hy is nou wakker, maar baie slaperig en het nog nie met ons gepraat nie. Ons het Saterdag gepraat toe reageer hy met 'n glimlag en 'n handdruk. Hy kan nie vertel wat gebeur het nie, ons is ook in die duister oor wat presies gebeur het."
Fredericks moet oorgeplaas word Kaap toe, maar omdat hy nog te swak is kan hulle hom nie oorplaas nie.
"Dit moes 'n groot slag gewees het. Hy het beide sy bene gebreek en dit het nou skroewe in. Sy pelvis is ook gebreek. Die impak was so hard dat sy kunsoog uitgestamp is."
Le Roux sê die liefde en omgee van die gemeenskap is vir hulle as familie oorweldigend.
"Ek het nooit besef hoe geliefd my broer is nie. Ek het nooit die impak besef wat hy op mense se lewens gehad het nie. Ek word oorval met boodskappies van mense wat hom sterkte toewens."
Sy het almal vir elke woordjie van bemoediging en gebed bedank.
Volgens lt.kol. Malcolm Pojie, provinsiale polisiewoordvoerder, is daar geen strafregtelike ondersoek geopen nie en daarom is geen arrestasies gemaak nie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’