KLEIN KAROO NUUS - Inwoners wat in groot dorpe woon kan ten minste supermarkte toe gaan vir noodsaaklike inkopies. Maar wat doen gemeenskappe in kleiner plekke soos Dysselsdorp en Klaarstroom waar daar nie groot supermarkte is nie?
Dysselsdorp
Volgens Leon Campher, 'n gemeenskapsleier van Dysselsdorp, is die inperking 'n opdraande stryd vir die gemeenskap. Nie net het 'n groot gedeelte van die gemeenskap nie toegang tot 'n inkomste nie, maar hulle kan ook nie bekostig om Oudtshoorn toe te gaan vir inkopies nie.
"Die mense hier is in 'n groot mate aangewese op spazawinkels, maar ongelukkig het baie van dié winkels hulle pryse verhoog wat sommige items onbekostigbaar maak."
Nog 'n praktiese probleem volgens Campher is die toepassing van sosiale afstand in veral informele nedersettings.
"Die mense benodig dringend nog tydelike toilette, want tans moet sommige 'n hele ent stap om 'n toilet te gebruik wat hulle weer in die moeilikheid by die polisie bring omdat hulle buite hul erwe is. Waterpunte bring dieselfde probleem mee, aangesien verskeie gesinne een waterpunt moet deel."
Campher sê hy het ook besef dat baie inwoners oningelig is oor die erns van die inperking aangesien hulle nie televisiestelle of radios het nie en dus op hoorsê moet reageer.
Klante wag geduldig en op 'n veilige afstand van mekaar om die winkel op Klaarstroom te besoek.
Klaarstroom
In Klaarstroom is die aankoop van voorraad skynbaar nie 'n groot probleem nie. Eunice Visser berig vandaar dat Derick Gavin, die eienaar van Klaarstroom Algemene Handelaar uit sy pad gaan om te verseker hy het genoeg voorraad vir die gemeenskap.
Daar is ook twee Somaliese spazawinkels in die woonbuurt buite Klaarstroom waar mense basiese noodsaaklikhede kan koop.
Volgens Visser deel inwoners ook voorrade onder mekaar en die eienaar van die plaas Aswater het vir elke huis in Klaarstroom en in die woonbuurt 'n sak uie afgelaai.
Die gemeenskap neem ook die bedreiging van Covid-19 ernstig op. By die algemene handelaar wag klante meer as 'n meter uitmekaar terwyl net twee op 'n slag in die winkel toegelaat word nadat hulle soos by ander besighede ook eers hulle hande ontsmet het.
Een van Klaarstroom se inwoners, Sharon Whitts-Hewinson maak lapmaskers wat sy aan die gemeenskap uitdeel. Soos deur die res van die land, staan haar en haar man Jeremy, se gastehuis dolleeg en is hulle ook 'n inkomste kwyt.
"Ek dink klein gemeenskappies soos hierdie sal met goedhartige mense en boere in die omgewing deur dié ding kom," sê Visser.
Plaaswerkers
Plaaswerkers buite Oudtshoorn met wie daar hierdie week gesels is, se grootste probleem is vervoer en verlies aan inkomste vir diegene wat nie permanent op plasse werk nie.
Die inperking geld vir hulle ook, maar wat gemaak as jy geen kos in die huis het nie?
Dear reader, As your local news provider, we have the duty of keeping you factually informed on Covid-19 developments. As you may have noticed, mis- and disinformation (also known as “fake news”) is circulating online. Group Editors (publications and online platforms) is determined to filter through the masses of information doing the rounds and to separate truth from untruth in order to keep you adequately informed. Local newsrooms follow a strict pre-publication fact-checking protocol. A national task team has been established to assist in bringing you credible news reports on Covid-19.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'