Update
OUDTSHOORN NUUS - Die Oudtshoorn-polisie het vanoggend identikits bekend gemaak van die persone wat in verband met verlede week se gewapende roof by Market Fisheries in Victoriastraat gesoek word.
Die Oudtshoorn Courant het verlede week berig dat nog niemand in verband met die voorval in hegtenis geneem is nie.
Ses mans het verlede Maandag met vuurwapens die winkel binnegegaan, die personeel op die grond laat lê en geld geëis.
Hulle het ook 'n klant, wat by die winkel ingestap het, van sy kontant en selfoon beroof.
Die polisie het identikits van slegs twee van die verdagtes.
Volgens kaptein Louis Visser, woordvoerder van die Oudtshoorn-polisie, is beide Suid-Afrikaanse mans swart. Die een man is ongeveer 30 jaar oud, 1,7 meter lank en groterig ('chubby') gebou. Hy het 'n room kleur top met 'n ritssluiter aangehad.
Die ander man is ongeveer 35 jaar oud en 1,7 meter lank. Hy is donker van kleur en het 'n swart baadjie en 'n swart mus opgehad. Hy het ook 'n baard en snor.
Identikits van 2 van die persone.
Enigiemand met inligting oor die mans kan a.o. Martin le Roux by 044 274 4400 skakel.
Lees vorige artikels:
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'