Video
OUDTSHOORN NUUS EN VIDEO - Die geskiedkundige hangbrug in Kerkstraat word uiteindelik herstel.
Die brug is reeds geruime tyd vir voetgangers gesluit nadat dit die afgelope aantal jare stelselmatig verval het.
Volgens Ntobeko Mangqwengqwe, woordvoerder van die Oudtshoorn-munisipaliteit is 'n bedrag van R180 000 vir die 2107/2018 finansiële jaar begroot vir herstelwerk.
Nadat die tender geadverteer is, is 'n plaaslike kontrakteur se tender van R175 230 aanvaar.
Die kontrakteur het verlede maand reeds met herstelwerk begin. Volgens Mangqwengqwe het gereelde onderhoud aan die brug vir jare nie plaasgevind nie en moes die brug om veiligheidsredes gesluit word.
"Die enigste manier om die brug tot sy vorige glorie te herstel was deur omvattende herstelwerk. Alle verweerde hout word vervang en die brug se staalkonstruksie word volgens die oorspronklike spesifikasies geverf."
Die staalstruktuur van die hangbrug is weer in die oorspronklike kleure en volgens voorgeskrewe spesfikasies geverf. Foto's: Hannes Visser.
Die hangbrug van 91m is in 1914 voltooi nadat planne in 1913 deur die stadsraad goedgekeur is. Die behoefte aan 'n brug het ontstaan nadat Oudtshoorn-Wes van die Grobberlaarsrivier, begin uitbrei het en mense dikwels nie die Grobbelaarsrivier oor die laagwaterbrug kon oorsteek na reënbuie nie. Die hangbrug is in 1964 tot Nasionale Gedenkwaardigheid verklaar.
Daar word verwag dat herstelwerk aan die brug teen 20 Julie voltooi sal wees.
Kyk 'n video hieronder:
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'