OUDTSHOORN NUUS - Vier Oudtshoorniete het vandag in die Calitzdorp-landdroshof verskyn na hulle Saterdagaand vir die onwettige besit van tik in hegtenis geneem is.
Lionel Prins, Pieter Ewerts, Bruno Ezeamalikwue en Jolan Malambo is steeds in aanhouding en het gister verskyn sodat hul prokureurs op rekord kon kom.
Volgens kapt. Ian Meyer, bevelvoerder van die Calitzdorp-polisiestasie, het die polisie inligting ontvang dat dwelms na die dorp gebring word.
"Die polisie het 'n optrede buite Calitzdorp gehou waar die voertuig afgetrek is. Die Calitzdorp-polisie, saam met lede van die honde-eenheid, het die voertuig deursoek en 1,5 kg tik, ongeveer R500 000 in straatwaarde, in die voertuig gevind."
Volgens hom was die tik in twee sakkies verpak en daar is ook op vier selfone beslag gelê. Volgens Meyer sal die staat die borgtogaansoek teengestaan.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'