Update
OUDTSHOORN NUUS - 'n Bekende hawelose vrou in 'n rolstoel is Maandagaand grusaam dood toe 'n vragmotor oor haar gery het. Mary Jullies (49) en 'n onbekende man is omstreeks 19:40 op die R62 naby die Mosselbaai-pad se aansluiting deur die vragmotor getref. Jullies is op slag dood en die man het kort daarna in die hospitaal beswyk.
Hy het veelvuldige beserings opgedoen.
Daar was aanvanklik gedink dat die man wat oorlede is, Jullies se vriend Willem Olkers was, maar 'n familievriend van Jullies, Sebien Olkers, het bevestig dat Willem nie in die ongeluk betrokke was nie en lewendig is.
Kapt. Louis Visser, woordvoerder van die Oudtshoorn-polisie, het Donderdagoggend gesê die oorledene is steeds nie uitgeken nie.
Volgens inligting wat die Oudtshoorn Courant op die toneel bekom het, het Jullies en die man in die pad gestap. Die blyk dat die vragmotor uit Calitzdorp se rigting gery het en dat Jullies en die man in dieselfde rigting in die ryvlak gestap het. Die man het Jullies se rolstoel gestoot. Volgens die vragmotorbestuurder het hy die twee eers gesien toe hy byna by hulle was. Jullies se rolstoel het etlike meter verder in stukke, van haar af aan die oorkant van die pad gelê.
Jullies, wat haar een been jare gelede in 'n motorongeluk verloor het, was 'n bekende gesig in Oudtshoorn en was een van die haweloses wat in Vredestraat gewoon het. Sy was die afgelope aantal maande in 'n rolstoel gewees.
Sebien Olkers, die vrou by wie Jullies 27 jaar lank gewoon het, sê hulle familie is stukkend.
"Ons het Dinsdag in die huis gesit en praat. Ek was vreeslik hartseer oor my vriendin en oor Willem omdat ons toe nog gedink het hy is dood. Iemand het aan die deur geklop en toe staan Willem daar. Hy wou haar ID vir my bring, maar ek het gesê hy moet dit na haar familie neem."
Sebien sê Jullies het agter Willem aan strate toe getrek.
"Hulle was nege jaar saam en was vreeslik lief vir mekaar."
Die liggaam van Mary Jullies na sy deur die vragmotor getref is. In die voorgrond is die band van die rolstoel sigbaar.
Volgens haar was sy en Jullies jare lank vriendinne gewees.
"Sy het op 'n baie jong ouderdom haar dogter, nou 33 jaar oud, gehad. Mary het ook geboorte aan 'n seuntjie gegee, maar hy is dood gebore."
Sebien sê Jullies was 'n vredeliewende mens wat altyd gelag het.
"Sy het haar wyntjie geniet, maar sy was 'n goeie mens. My deur het altyd vir haar oopgestaan. Ek het ook aangebied om vir haar en Willem 'n hok in my erf op te slaan dat hulle net van die straat af kan kom, maar hoor was min. Sy het egter altyd geweet my huis is oop vir haar en ons het mekaar nog gereeld gesien. Mary was 'n goeie vrou, ten spyte van als, sy het nie verdien om op so 'n wrede manier te sterf nie."
Sebien sê haar kinders was baie erg oor Jullies.
"Mary het haar eie familie, maar het die laaste paar jaar niks met hulle te doen gehad nie. Ek en my kinders was haar familie. Ons het haar liefgehad en haar versorg. Ek het haar gewas, haar hare geblaas en kos gegee toe sy ernstig siek geraak het. Miskien as sy nog hier was sou dit nie gebeur het nie."
Sebien sê Mary het saam met Willem en nog hawelose mense na die skuiling vir haweloses gegaan en toe later na die veld op die Calitzdorp-pad getrek.
"As haar kop in 'n rigting gestaan het kry jy haar nie omgepraat nie. Sy wou daar wees."
Die Oudtshoorn Courant kon teen druktyd nie die begrafnisreëlings bevestig nie.
Mary Jullies se rolstoel het etlike meters van haar liggaam af gelê.Foto's: Liezl van Niekerk
Lees vorige artikels hier:
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'