OUDTSHOORN NUUS - Die Gift of the Givers-liefdadigheidsorganisasie het gister, 24 Februarie, vir die tweede keer in twee maande Oudtshoorn besoek.
Soos voorheen beloof, het hulle 'n draai by die Oudtshoorn Inn-hotel gery om vir 'n tweede keer in twee maande kospakkies aan dié werkers te oorhandig.
Hierdie keer is kospakkies aan sommige personeellede van Turnberry-hotel, Protea-hotel en Queens-hotel oorhandig wat weens Covid-19 afgelê is.
Volgens Ali Sablay van Gift of the Givers het hy met sy laaste besoek aan Oudtshoorn die groot behoefte in sommige gemeenskappe gesien.
"Om hierdie rede het ek 'n voorlegging aan hoofkantoor gedoen en daarna is besluit dat ons terselfdertyd die GG-kamp, Bridgton-woonbuurt en die Kanaal-buurt met begeleiding van die Oudtshoorn-polisie gaan besoek waar ons kospakkies en water aan geïdentifiseerde behoeftige inwoners gaan oorhandig. Ons sal ook 'n plaasskool besoek om skryfbehoeftes aan leerders te oorhandig."
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'