Update Video
OUDTSHOORN NUUS EN VIDEO - 'n Gesin van Oudtshoorn se terugreis van 'n doopgeleentheid in Ladismith het Sondagmiddag traumaties geëindig.
Ricardo Jantjies, sy vrou en twee kinders was omstreeks 17:30 skaars 5 km voor Oudtshoorn toe hulle Renault Scenic aan die brand geslaan het.
Volgens Jantjies het hy 'n aantal skerp klapgeluidjies gehoor en die volgende oomblik het rook onder die paneelbord begin uitkom.
"Ek het kop gehou en besef ek moet so gou as moontlik stop dat ons uit die kar kan kom."
Remmerke op die skouer van die pad getuig daarvan dat hy haastig gestop het.
Sy vrou het ligte skraapwonde opgedoen toe sy in haar haas om die kinders uit te haal, uitgespring het voordat die motor heeltemal tot stilstand gekom het.
Die gesin kon daarin slaag om hulle bagasie en prsoonlike besitings uit die motor te kry voordat dit heeltemal in vlamme gehul was, maar moes toe hulpeloos langs die pad staan en kyk hoe die motor uitbrand.
'n Weermagkollega van Jantjies het toevallig in die teenoorgestelde rigting gekom en die gesin te hulp gesnel.
Die brandweer en ambulansdienste was binne minute op die toneel, maar die motor was toe reeds totaal uitgebrand.
Die brandweer kon ook 'n gedeelte van die veld wat aan die brand geslaan het, blus voordat die brand versprei.
Volgens Jantjies het hy en sy gesin die naweek in Ladismith deurgebring waar hulle Sondag 'n doopgleentheid bygewoon het. "Ons het so rustig gery en die kar het nie eenkeer geruk of iets snaaks gedoen nie. Dit was net die paar klapgeluidjies wat ek gehoor het en toe begin dit brand," het hy Sondag langs die R62 gesê.
Kyk 'n video hieronder:
Die laaste vlamme wat die motor verswelg het.
Vorige artikel: Gesin ontsnap toe motor brand
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'