OUDTSHOORN NUUS - Dr Wessel Vermeulen, bekende mediese praktisyn van Oudtshoorn, was verlede week in selfisolasie nadat hy ‘n pasiënt behandel het wat positief getoets is vir Covid-19. Die pasiënt is tans in die Mediclinic George.
Dokter Veremeulen se toets was negatief en hy is weer volstoom by sy praktyk op Oudtshoorn besig.
Hieronder gee hy ‘n oorsig, en sy indrukke, oor die Covid-19 pandemie:
Darem wonderlik hoe enige spesie of organisme homself kan verander of aanpas – wetenskaplikes noem dit mutasie. Die bekende coronavirus waarvan ek alreeds in 1971 op mediese skool geleer het, het nou weereens muteer en weer in ? ander gedaante verskyn.
Voor die huidige SARS-COV 2 (ook genoem Covid 19 ) het dieselfde virus in ? meer gepantersde gewaad die voël-en varkgriep veroorsaak en derduisende mense doodgemaak.
Ons het ondanks waarskuwings van wetenskaplikes, nie daaruit geleer nie, en is nou alweer broek-af gevang – ons mensdom het as’t ware nie vir die verwagte oorlog aangepas en ons wapenarsenaal opgebou nie – die virus was egter proaktief om homself vir groter skade voor te berei!
Net soos lande hulle paraatheid, wapentuig en troepe vir oorlog opbou en ontwikkel, moes ons wêreld ook meer geld aan navorsing, mediese toerusting en entstof spandeer het. Dis maklik om nou slim te wees en regerings en leiers die skuld te gee maar die vereiste aan basiese lewensbehoeftes soos behuising, voedsel en ? standhoudende ekonomie moet sekerlik eers aan voldoen word, voor jy die luuksheid van volledige mediese navorsing en beplanning kan smaak.
Die navorsing om ? kuur vir die virus te vind, maak egter vinnige en belowende spronge. Ook hier veg ons wetenskaplikes op die voorpunt veral ook om ? entstof te ontwikkel. Daar word ook navorsing gedoen om die gesuiwerde plasma van geneesde gevalle, wat vol aktiewe teenliggame is, vir die siekes te gee. Alhoewel die versigtige beraming is dat ons eers oor 18 maande entstowwe op die mark gaan bring, is ek versigtig optimisties dat dit vroeër kan gebeur.
Artikels is ook publiseer om te wys dat lande waar daar verpligte BCG inentings teen tuberkulose, soos in SA, Portugal en selfs in Indië gedoen word , die ontploffing van die virus minder dramaties verloop. Lande waar daar vroegtydig op isolasie oorgegaan is, doen ook beter.
Dit blyk ook nou dat daar ? verskil in die intensiteit en patologie van verskillende sero-tipes van die virus is – dis waarskynlik ook ? rede waarom party lande se virus ongelooflik kwaadaardig (maligne) en verwoestend is. Daar is nou alreeds agt verskillende serotipes geïdentifiseer.
Die voorkoms, ontwikkeling en patologie by kinders is merkbaar laer en baie min kinders wat nie ook ? ander onderliggende siekte het nie, word siek – hulle kan dit egter na oumas en oupas versprei! Dit mag ook vorentoe blyk te wees dat SA se uiters effektiewe TB inenting hulle teen die virus beskerm het.
Die grootste patologie en skade deur die virus word in die long aangetref waar dit die weefsel letterlik aktief aanval en bindweefsel en immuunreaksies veroorsaak wat akute respiratoriese nood laat ontwikkel ( amper soos ? skok-long).
Ouer mens en veral diegene wie se longvolume klaar onder druk as gevolg van rook, emfiseem en ander siektes is, kan nie die ekstra beskadiging hanteer nie. Hulle moet dan op ventilators geplaas word om die longvolume en suurstofuitruiling met positiewe druk uitgeset te hou. Die doel daarvan is om uitbreiding van die patologie met permanente skade en gevolglike ineenstorting van die long se elastisiteit, te voorkom.
Dit lyk vir my of ons so drie weke agter die Noordelike Halfrond se pandemie is, deels dalk as gevolg van die seisoenale verskil, maar dit kan ook weens bevolkingsdigtheid, oormatige besige lug-en- grondverkeer, die demografiese verskille in bevolkingsouderdom en weens baie ander faktore wees.
Myns insiens hou SA nog die virus onder beheer en is daar reeds ? mate van afplatting na die inperkingsmaatreëls. Die volgende week kan hoogs bepalend in ons stryd teen die virus wees en ek wil ? beroep op lesers doen om nou regtig alles in die stryd te werp om ons veral deur effektiewe isolasie en goeie higiëne suksesvol oor die wenstreep te voer.
Ons as mediese gemeenskap het sover geweldig baie uit die pandemie geleer en ook die bevolking moes vinnig leer om aanpassings te maak. Dit alles maak ons slimmer en sterker vir die volgende aanslag. Die goue standaard van voorkoming bly nog steeds isolasie en sosiale distansiëring - vermy nabye kontak in openbare ruimtes en winkels en dra maskers want dit kan tog nie skade doen nie.
Gebruik maskers, handskoene, voorskote en oorjasse waar toepaslik. Persoonlike higiëne, veral die deeglike was van hande en bedekte hoes, is baie noodsaaklik. Moenie onnodig aan jou gesig en enige voorwerpe vat en spoeg nie ( ek hoop veral sportsterre sal nou vir eens en altyd ophou kou en spoeg op die sportvelde)!
Heeltemal tereg word die vraag gevra of SA se ekonomie wat alreeds op sy knieë verkeer die impak van die nasionale en veral ook internasionale isolasie sal kan hanteer. Party mense redeneer dat dit nie help jy voorkom 10,000 sterfte aan die virus maar dat die inperking kan lei tot 100,000 sterftes aan hongersnood en ontbering nie. Afrika in geheel het nie die geld en middele om lank uit te hou nie.
My persoonlike opinie, as inwoner van ‘n dorp wat alreeds ekonomies krepeer agv die droogte, verminderde uitvoer, kansellasie van die KKNK en nou die inperking daarby, is dat ons land se ekonomie net eenvoudig nie die gebrek aan inkomste, produksie , werksgeleenthede en toerisme verder sal kan absorbeer nie.Dit is sulke tue wat mense jou woede moet beteuel oor die skurke wat op alle vlakke ons land dmv korrupsie, diefstal ,selfverryking en misdaad reddeloos verniel het – ons word as’t ware nou broos gelaat deur die plundering van ons land.
Die goeie ryke sakemanne soos Motsepe , Rupert en Oppenheimer wat al lankal hulle maatskaplike bydrae tot die land doen, help weereens , maar die ander skurke is nou skaamteloos afwesig.
Andere redeneer weer dat die ekonomie kan herstel maar nie die dood nie! So hoor mense elke dag die verskriklikste dinge en jaag mekaar die harnas in wat kan lei tot histerie. Weereens die vermaning - wees rustig, alles is onder beheer en kom net julle isolasie na!
Dit is ook nou die tyd om “na jouself te kyk, om ander te red; en om ander te help om daardeur jou te red” – dit is die gees van Ubuntu waarop Afrika al die jare roem - kom ons streef dit nou vir die eerste keer werklik na.
Die bevolking van SA het in 1994, 1995, 2007 en 2019 kortstondige eenheid en samesyn deur sukses beleef. Ek wil die hoop uitspreek dat die ontberinge, pyn, uitdagings en lyding wat hierdie wêreldtragedie besig is om teweeg te bring, ons almal sal laat besef dat al ons mense deel van een groot makro-organisme is en dat ons toekoms daarin sal lê om as gemeenskap aan te pas en te verander.
Die sorgsaamheid, mededeelsaamheid, liefdevolle erbarming en empatie wat Suid-Afrikaners teenoor mekaar en veral teenoor diegene wat swaarkry, gaan betoon en bewys is myns insiens die aller-noodsaaklikste vereiste om ons tydens die pandemie weereens ? wenland te maak !
Hierdie virus kan regkry wat geen politieke groepering, geld, oorlog en kerke nog ooit reggekry het nie. Dit kan ons almal, ondanks die verskeidenheid in kultuur, geloof, geslag, rykdom, armoede, geleerdheid en kleur in 'n eenheid saamsnoer – sien dus hierdie pandemiese bedreiging as ? uitdagende geleentheid tot vernuwing en sukses.
God seën Suid-Afrika!
VERWANTE ARTIKELS:
- Covid-pasiënt is 'n boer van De Rust
- Covid-pasiënt toon verbetering
- Nuutste oor Oudtshoorn Covid-pasiënte
- Dr Vermeulen toets negatief vir Covid-19
- Tweede Oudtshoorn Covid-19 geval
- Eerste Oudtshoorn Covid-19 pasiënt vertel
- Dokter in self-isolasie
- Oudtshoorn het eerste Covid-19-geval
Dear reader, As your local news provider, we have the duty of keeping you factually informed on Covid-19 developments. As you may have noticed, mis- and disinformation (also known as “fake news”) is circulating online. Group Editors (publications and online platforms) is determined to filter through the masses of information doing the rounds and to separate truth from untruth in order to keep you adequately informed. Local newsrooms follow a strict pre-publication fact-checking protocol. A national task team has been established to assist in bringing you credible news reports on Covid-19.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'