OUDTSHOORN NUUS - "Ek het geen idee waar ek die virus gekry het nie, en korona was die laaste ding waaraan ek gedink het toe ek begin sleg voel het."
Dit was die woorde van die vrou wat Oudtshoorn se eerste Covid-19 geval is. Charmaine Huyser het gisteroggend besluit om met die media te praat nadat sy bewus geword het van die string kommentare op Facebook waar mense aangedring het om te weet wie die persoon is.
"Ek verstaan dat mense in vrees lewe oor die virus en daarom het ek en my dokter vanoggend gesels en besluit om vir die mense te laat weet daar is nie rede vir paniek nie."
Volgens Huyser het sy ongeveer twee weke gelede begin sleg voel, maar sy het glad nie gehoes of 'n seer keel gehad nie. "Ek het 'n ligte koors ontwikkel en my lyf was seer, maar ek het dit maar aan moegheid en spanning toegeskryf.
Sy en haar gesin woon op 'n plaas 12 km buite die dorp en toe sy Saterdagoggend vir haar gesin sê haar lyf is baie seer het hulle aangedring dat sy dokter toe gaan.
"My koors was nie baie hoog nie, maar my dokter het my Mediclini toe gestuur om getoets te word, al het ek nie al die simptome gehad nie."
Sy sê dit het Dinsdagoggend gevoel of haar hart gaan staan toe haar dokter haar laat weet dat sy positief vir Covid-19 getoets is. "Dit was vir my 'n skok, want soos meeste ander mense het ek gedink dis 'n virus wat ek nie sommer sal kry nie."
"Ek wil hê mense moet weet dat ek uit my slaapkamer buite die dorp werk en dat almal met wie ek in aanraking was, reeds deur die departement van gesondheid gekontak is. Hulle bel my gesin elke dag om seker te maak dat nie een van hulle enige simptome toon nie."
Huyser sê dat sy tans in 'n deel van die huis met haar eie badkamer bly en 'n masker en handskoene dra as sy buite toe gaan. "My gesin en familielede wat in die huis is, is in hulle eie deel en my etes word in 'n papierbord voor my deur geplaas. Dit is nogal vreemd om by jou gesin te wees, maar nie met hulle kontak te hê nie." My gesin ondersteun my baie en ek is ewig dankbaar."
Die gesin is in selfisolasie en gaan glad nie dorp toe nie.
"Ek word Maandag 50 en dit gaan seker die vreemdste verjaarsdag van my lewe wees," skerts sy.
Op 'n vraag of sy ernstig siek is, het sy gesê sy voel reeds baie beter as verlede Saterdag. "Ek dink ek is gelukkig om die siekte op in baie ligte graad te hê, maar ek moet ook sê dat ek nog altyd gesond lewe en gereeld vitamiene neem."
Haar boodskap aan inwoners is: "Moet asseblief nie in vrees lewe nie, hierdie is 'n virus wat enigeen kan tref, maar dit is nie die einde nie." My raad is al het jy net een van die simptome raadpleeg dadelik jou dokter moet nie te lank wag nie." Dan sê sy ook dit is belangrik dat mense mekaar moet ondersteun.
"Ek was nogal geskok oor die kommentare wat sommige mense lewer, maar ek verstaan dat dit uit vrees ontstaan." Alhoewel Huyser sover moontlik al die name van mense met wie sy in kontak was, aan die gesondheidsdepartement gegee het, sê sy dat enigiemand wat dalk in die afgelope aantal weke op 'n terloopse basis met haar in kontak was, hulself as 'n voorsorgmaatreël vir 14 dae moet isoleer.
"Almal in die land is in elk geval nog vir die volgende 14 dae ingeperk, so as iemand dink hulle was met my in kontak, bly maar eerder by die huis."
Intussen het Dr Wessel Vermeulen, bekende algemene praktisyn van Oudtshoorn, gister op sy praktyk se Facebook-blad aangekondig dat hy hom in self-isolasie plaas aangesien hy in kontak was met 'n pasiënt wat ook positief getoets is vir Covid-19. Daar kon teen saktyd nie bevestig word of die persoon ook van Oudtshoorn is nie.
Verwante artikels:
Dear reader, As your local news provider, we have the duty of keeping you factually informed on Covid-19 developments. As you may have noticed, mis- and disinformation (also known as “fake news”) is circulating online. Group Editors (publications and online platforms) is determined to filter through the masses of information doing the rounds and to separate truth from untruth in order to keep you adequately informed. Local newsrooms follow a strict pre-publication fact-checking protocol. A national task team has been established to assist in bringing you credible news reports on Covid-19.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'