OUDTSHOORN NUUS - Hy was 'n baie aangename mens en maklik om mee oor die weg te kom. Hy was ook altyd gereed met 'n grappie of twee om mense te vermaak.
Só vertel Cornel Landman, eienaar van Karoo Lusern, oor die tragiese vragmotorongeluk wat Saterdagaand die lewe van Johannes "Hansie" Pietersen (50), 'n aflosbestuurder by die maatskappy, geëis het.
Die ongeluk het om 21:45 op die R341 net voor De Rust plaasgevind.
Landman sê dit wil voorkom of Pietersen beheer oor die vragmotor verloor en toe remme aangeslaan het waarna 'n voorband van die vragmotor gebars het.
Die vragmotor het in 'n sloot langs die pad beland.
"Die ongeluk het op 'n slegte plek op die pad gebeur en verskeie mense het die afgelope paar jaar hul lewens op dié stuk pad verloor.
"Daarvan getuig die talle kruise wat daar opgerig is. Dis teen 'n afdraande waarna die pad 'n draai na links maak. Dis 'n bedrieglike draaitjie en mens kan jou maklik daarmee misgis en beheer verloor."George Meyer, Pietersen, se swaer sê Pietersen het Saterdagaand van 22:00 af toe die ongeluk gebeur het tot die volgende oggend om 04:00 in die vragmotor gelê en om sy lewe baklei.
"Daar moes insleepvoertuie kom om die vragmotor regop te tel sodat nooddienspersoneel Hansie uit die wrak kon haal. Ons as familie is oortuig daarvan as die oproepe vroeër aan die nodige mense gemaak is en die insleepvoertuig kon vroeër daar wees, sou parademdici nog sy lewe kon gered het. Hy het so hard baklei."
Meyer sê hulle was almal op die toneel kort ná die ongeluk gebeur het.
"'n Ander vragmotorbestuurder het ons gebel en gesê wat gebeur het. Volgens dié bestuurder het die vragmotor se band gebars. Hansie het nog probeer om die vragmotor te beheer, maar die vrag was te swaar en dis toe wat dit aan die bestuurderskant omgeslaan het. Meyer sê sy swaer, wat vroeër jare in die polisie was, was 'n passievolle mens en het 'n liefde vir vragmotors gehad.
"Hy het uit die polisie bedank om sy droom na te streef. Almal wat hom geken het, kan getuig van sy goeie hart."
Die vragmotor is afgeskryf.
Landman sê 'n geskokte stilte het Maandag by Karoo Lusern geheers met die nuus dat 'n geliefde kollega nie meer daar is nie.
"Johannes was gewild onder al sy kollegas. Niks was ooit te veel gevra nie. Hy laat 'n groot leemte."
Pietersen se een seun, Jolyn, het aan Landman gesê hy wil graag in sy pa se voetspore volg en ook 'n vragmotorbestuurder word.
"Ek wil so gou as moontlik my kode 14-lisensie kry om dié droom te verwesenlik."
Pietersen word oorleef deur sy vrou, Maria, twee dogters en vier seuns.
Vriende en familie gaan môre 'n verbyry-diens vir hom op Dysselsdorp hou.
Die begrafnis is Saterdag vanuit die Pinkster Protestante Kerk in Dysselsdorp.
Karoo Lusern gaan die onkoste van die begrafnis dra.
Volgens sers. Chris Spies, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, ondersoek die De Rust-polisie 'n klag van strafbare manslag na die dood van die 50-jarige man van Dysselsdorp Saterdag in 'n vragmotorongeluk dood is.
Johannes "Hansie" Pietersen (50), 'n aflosbestuurder by Karoo Lusern, het Saterdagaand verloor toe sy vragmotor se band gebars en dit aan die bestuurskant omgeslaan het.
Die vragmotor is heeltemal afgeskryf.
Lees vorige artikels:
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'