Update
OUDTSHOORN NUUS - Die nuus dat een van Oudtshoorn se geliefde inwoners, Olga Minnie, aan haar beserings beswyk het weens 'n ongeluk waarin sy en haar man, John, verlede week betrokke was, is deur menigte inwoners met ongeloof en verdriet begroet.
Olga en haar man was ten tyde van haar dood die eienaars van Bushman Curios in Baron van Reedestraat.
Oudtshoorn Courant het verlede week berig dat die Minnie-egpaar op Saterdag 13 Mei ongeveer 18:00 vanaf hul besigheidsperseel vertrek toe hul Toyota RAV met 'n maroen VW Jetta gebots het.
Beide John en Olga is toe na 'n hospitaal in Oudtshoorn geneem, maar is kort daarna na 'n hospitaal in George oorgeplaas. Olga is weer na Oudtshoorn oorgeplaas, maar weens die erns van John se besering, is hy na die Grootte Schuur-hospitaal in Kaapstad oorgeplaas.
Volgens Olga se dogter, Charmaine Stander, is John se toestand steeds kritiek.
Stander het haar ma as 'n liefdevolle hartsmens beskryf wat altyd 'n lus vir die lewe gehad het.
"Ons sal haar opgewekte geaardheid verskriklik mis. Ons familie is verskriklik geruk deur haar dood, maar ons wil terselfdertyd almal bedank vir die ondersteunende boodskappe en oproepe wat ons sedert die ongeluk ontvang het. Dit alleen was 'n aanduiding van hoe geliefd sy in die gemeenskap was," het Stander gesê.
Volgens Stander is die familie op die oomblik besig met die begrafnisreëlings en sal sy die media inlig presies wanneer dit sal plaasvind.
Stander sê verder dat haar ma die Bushman Curious-winkel in Baron van Reedestraat sedert 2000 bedryf het en dat dit sedert die ongeluk gesluit is. "Daar sal op 'n latere stadium 'n besluit geneem word wat die pad vorentoe vir die winkel is," het sy bygevoeg.
Olga word oorleef deur haar dogter, Charmaine Stander, en seun, Jacques Grobler, sowel as sewe agterkleinkinders.
Volgens sers. Chris Spies, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, ondersoek die polisie tans 'n saak van strafbare manslag.
Vorige artikels:
- Olga Minnie beswyk aan beserings na ongeluk
- Bushman Curios-egpaar ernstig in ongeluk beseer
- Bushman Curios-paartjie ernstig beseer na ongeluk voor hul besigheid
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’