Update
OUDTSHOORN NUUS - 'n Ongeluk die afgelope naweek waarin twee van Oudtshoorn se bekende besigheidseienaars ernstig beseer is, het die afgelope naweek skokgolwe deur die gemeenskap gestuur.
Olga en John Minnie, die eienaars van Bushman Curios, was Saterdagaand ongeveer 18:00 naby hul besigheid op die hoek van Baron van Reede- en St. Savioustraat, toe die ongeluk plaasgevind het.
Volgens sers. Chris Spies, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, ondersoek die polisie tans 'n saak van roekeloos en nalatige bestuur.
"Daar was 'n botsing tussen 'n maroen VW Jetta en 'n blou Toyota Rav4. Niemand is nog in hegtenis geneem nie, en die polisie is steeds besig om die saak te ondersoek. Dit is nie duidelik hoe die ongeluk gebeur het nie."
Beide John en Olga is na 'n hospitaal in Oudtshoorn geneem, maar is kort daarna na 'n hospitaal in George oorgeplaas. Olga is weer na Oudtshoorn oorgeplaas, maar weens die erns van John se besering is hy na die Grootte Schuur-hospitaal in Kaapstad oorgeplaas.
Volgens inligting van 'n familie-vriend word John tans vir onder andere ernstige kopbeserings behandel.
"Op die oomblik is hy in 'n medies geïnduseerde koma en haal hy kunsmatig asem. Sy toestand is in hierdie stadium kritiek. Olga is in die Oudtshoorn-hospitaal, maar kan nie praat nie. Sy het erge harsingskudding."
'n Ooggetuie het aan Oudtshoorn Courant vertel dat die Minnie-egpaar op die tydstip van die ongeluk vanaf hul sakeperseel gery het toe die ongeluk plaasgevind het.
"Die Jetta het van Oudtshoorn Inn-hotel se kant afgekom en, soos ons kon sien, het die Toyota regs gedraai. Die Jetta is regs voor, en die Toyota is links voor getref. Die persoon in die Jetta is nie beseer nie, en het geblyk om net in skok te wees."
Menigte inwoners het hul skok oor die ongeluk uitgespreek en die Minnie-egpaar sterkte toegewens met hul herstelpad.
Vorige artikel: Bushman Curios-paartjie ernstig beseer na ongeluk voor hul besigheid
Die Minnie-egpaar se blou Toyota RAV4 word voor hul sakeperseel deur wegsleepdienste weggesleep kort na die ongeluk.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’