Update
OUDTSHOORN NUUS - Die Oudtshoorn-polisie ondersoek 'n klag van huisbraak en diefstal na 'n inbraak by 'n plaaslike restaurant die afgelope naweek.
Volgens kapt. Louis Visser, woordvoerder van die Oudtshoorn-polisie, is die tralies van die veiligheidshek by die restaurant se kantoor oopgebreek en so toegang tot die gebou verkry.
'n Skootrekenaar en kontant van R5 000 is gesteel.
Niemand is nog in hegtenis geneem nie. Enigiemand met inligting kan sers. Sharoné Flemmer by 044 203 9017 skakel.
Pierre Malherbe, eienaar van Jemimas waar die voorval gebeur het, het gesê dit het Sondagoggend ongeveer 01:30 gebeur.
"Die voorval is op geslotekringtelevisie vasgevang. Ek is kwaad oor wat gebeur het. Die man het in my persoonlike spasie ingekom en goed gevat wat nie aan hom behoort nie."
Die vermeende dief was presies 13 sekondes in die kantoor voor hy weer spore gemaak het.
Volgens Malherbe is daar ook geslotekringtelevisiekameras buite en kan mens sien hoe die man met die muur langs beweeg en oor die buitemuur glip. Vandaar het hy by die kantoor ingebreek. "Ek ken nie die man nie. In die kantoor was ander waardevolle goed wat hy ook kon neem, maar hy het net vir die een skootrekenaar gegaan en toe die geldblik. Dit maak my briesend om te dink dat mens so hard vir jou geld werk en ander mense kom net en vat goed. Dit is nie reg nie."
Lees 'n vorige artikel hier: Inbraak by restaurant.
Die veiligheidshek wat deur die vermeende dief oopgebuig is. Foto: Liezl van Niekerk
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'