Update Video
OUDTSHOORN NUUS EN VIDEO - Die gedenksteen wat reeds 30 jaar op die middelmannetjie in Baron van Reedestraat staan, is Dinsdagoggend tydelik deur die munisipaliteit verwyder na dit vermoedelik deur 'n swaar voertuig gestamp is.
Alhoewel die steen net effe kant toe geskuif het en nie beskadig was nie, is daar besluit om dit na 'n veiliger plek te skuif.
'n Gedeelte van die gedenksteen het losgekom en afgebreek toe munisipale werkers die steen Dinsdag met kettings opgehys het. 'n Navraag is aan die Oudtshoorn-munisipaliteit gestuur oor die herstelwerk van die steen, maar teen druktyd is geen terugvoer ontvang nie.
Volgens Hazel Jonker van Heritage Oudtshoorn, het gesprekke reeds tussen Heritage Oudtshoorn en individue in die dorp begin oor die verskuiwing en herstel van die steen.
"Die steen is tans in veilige bewaring, maar ons sal samesprekings hê oor 'n veiliger plek vir die steen waar inwoners en toeriste steeds toegang tot die steen kan hê om dit te besigtig. Dit is deel van Oudtshoorn se erfenis en moet bewaar word," het sy gesê.
Kyk 'n video hieronder:
Die geskiedenis van die steen
Volgens Jonker is die steen 30 jaar gelede deur die munisipaliteit en Bewaringskomitee opgerig toe daar besluit is om Baron van Reedestraat te verbreed.
Met die heropening van die straat was daar 'n groot seremonie en 'n straatmyl waar die steen ook onthul is.
Die steen is deur 'n Belg, Wynand Festraets, uit sandsteen gemaak en die bronsplate is ook deur hom gegiet. Die Oudtshoorn Courant het op 24 November 1989 berig dat die steen deur AB Eksteen, voormalige direkteur-generaal van vervoer onthul is.
"Die gedenksteen het simboliese waarde vir Oudtshoorn aangesien dit van die dorp se aktiwiteite omvat. Die vier bronspanele beeld die volstuis-, toerisme- en tabakbedryf ('n integrale deel van die dorp se vroeë geskiedenis) en die historiese geboue van Oudtshoorn uit,." lui 'n deel van die berig.
Die gedenksteen in Baron van Reedestraat nadat dit deur 'n swaarvoertuig gestamp is. Foto's: Liezl van Niekerk
Lees 'n vorige artikel: Gedenkbeeld tydelik verwyder
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'