OUDTSHOORN NUUS - ‘n 19-jarige man van Oudtshoorn en ‘n 16-jarige jeugdige wat saam met nog ‘n jeugdige aangekla is van moord, is in die Oudtshoorn-streekhof onderskeidelik aan strafbare manslag en aanranding om ernstig te beseer skuldig bevind.
Die saak is vir vonnisverrigtinge vir ‘n proefbeampte-verslag uitgestel.
Graydon Daniels en sy twee medebeskuldigdes, onderskeidelik 16 en 17 jaar oud, is van moord op die 19-jarige Brandon September op 12 Desember 2019 naby die sogenaamde Blinkhokke in Riemvasmaak aangekla.
Daniels het erken dat hy September een keer met ‘n mes in die bors gesteek het omdat September hom glo met ‘n draad geslaan het. “Ek sou hom nie gesteek het as hy my nie met die draad geslaan het nie,” het Daniels op ‘n vraag van die landdros gesê.
Die staatsaanklaer, Elaine Plaatjies, het die hof versoek om die drie aan moord skuldig te bevind omdat hulle met ‘n gesamentlike doel opgetree het.
Streeklanddros Kenneth Peters het die verdagtes onskuldig bevind op die hoofaanklag van moord.
Daniels is skuldig bevind aan strafbare manslag. Die tweede beskuldigde is aan aanranding met die doel om ernstig te beseer skuldig bevind, terwyl die derde beskuldigde vrygespreek is.
Die saak is tot 10 November uitgestel.
VORIGE ARTIKELS:
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'