OUDTSHOORN NUUS - Die moordsaak teen drie verdagtes, waarvan twee minderjarig is, is Vrydag na die slotargumente van die staat en die verdediging in die Oudtshoorn-streekhof vir uitspraak tot volgende maand uitgestel.
Graydon Daniels (19) en sy twee medebeskuldigdes, onderskeidelik 16 en 17 jaar oud, word van die moord op Brandon September (19) op 12 Desember 2019 naby die sogenaamde Blinkhokke in Rose Valley aangekla. Hulle pleit onskuldig.
Daniels erken dat hy September een keer met 'n mes in die bors gesteek het omdat September hom glo met 'n draad geslaan het. "Ek sou hom nie gesteek het as hy my nie met die draad geslaan het nie," het hy op 'n vraag van die landdros geantwoord.
Hy het ontken dat hy en sy twee mede-beskuldigdes pangas by hulle gehad het. Volgens hom het die oorledene hom die eerste keer oor sy skouer geslaan, maar hy het die draad met die tweede hou vasgegryp.
Die oorledene het die draad uit sy hand geruk en weer na hom geslaan. Dit is toe dat die 16-jarige vir hom 'n mes aangegee het om homself te verdedig.
Die 16-jarige het getuig dat hy vroeër die dag uitgeskel is en toe vir Daniels, wat ouer is, gaan roep het om met die mense te gaan praat.
Hy het erken dat hy vir ene Clayton, met die platkant van 'n panga geslaan het, maar volgens Daniels het hy nie 'n panga gesien nie. Die staatsaanklaer, Elaine Plaatjies, het dit aan Daniels gestel dat hy sy weergawe aanpas en vra die hof om al drie beskuldigdes aan moord skuldig te bevind omdat hulle met 'n gesamentlike doel opgetree het. Sy sê volgens getuies het die oorledene met sy rug na Daniels gestaan en toe hy omdraai is hy met 'n mes gesteek.
Volgens die drie se regshulpprokureur, Wenzel Botha, het Daniels uit noodweer opgetree en kan hy hoogstens aan aanranding met die opset om ernstig te beseer skuldig bevind word.
Die 16-jarige het erken dat hy vir ene Clayton, met die platkant van 'n kapmes gekap het, terwyl die derde jeugdige glad nie by die bakleiery betrokke was nie.
Die saak dien voor streeklanddros Kenneth Peters van Kaapstad en is vir uitspraak tot 7 September uitgestel.
Daniels en die 16-jarige word aangehou terwyl die derde beskuldigde in die sorg van sy voog geplaas is.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'