OUDTSHOORN NUUS - 'n Jong man van Oudtshoorn is verlede Donderdag doodgesteek na hy een van sy vriende, wat met 'n kapmes aangeval is, probeer beskerm het.
Brandon September (19) het Donderdagaand saam met van sy vriende naby sy huis in Rose Valley gesit en gesels toe nog 'n groep jong mense na hulle toe geloop het.
Volgens een van September se vriende wat teenwoordig was, maar anoniem wil bly, het een van die jong mense en dié vriend begin baklei.
"Hulle het ons vriend met 'n kapmes aangeval. Brandon het opgespring en hom probeer verdedig. Hy het een van die mans om die nek gevang en hy het omgedraai en Brandon in die bors met die mes gesteek. Ons het nie eens die mes gesien nie, net die kapmes. Hy het 'n entjie vorentoe gestrompel omdat hy probeer het om by die huis uit te kom, maar het op die grond geval en is toe daar dood," het die seun gesê.
September se pa, Patrick Filander, sê hulle as familie is so verslae oor wat gebeur het.
"Brandon was my seun. Hy was 'n goeie kind met mooi maniere en sou nooit gaan skoorsoek het met ander mense nie. Hy sou egter ook nooit terugstaan as iemand hom of ander mense wou leed aandoen nie. Hy het nie verdien om so te sterf nie."
Steven Piedt, 'n gemeenskapsleier, wys waar Brandon September verlede Donderdagaand gesterf het. Foto: Liezl van Niekerk
Volgens sers. Gretchen Michaels, woordvoerder van die Oudtshoorn Polisie, is drie minderjarige verdagtes vir die moord in hegtenis geneem. Sy begrafnis begin Saterdag 10:00 by die huis by die blinkhokke in Rose Valley.
'n Gemeenskapsleier, Steven Piedt, sê hulle as gemeenskap is keelvol vir die geweld wat in Rose Valley seëvier.
"Elke naweek gebeur daar iets. Dinsdagaand is nog 'n jong seun met 'n kapmes in Rose Valley aangeval. Hy kon tot by die naaste huis hardloop en hulp vra, maar hy was ernstig beseer. Ons gemeenskap moet opstaan teen die geweld wat in ons buurt aangaan."
Piedt sê hulle werk saam met die plaaslike gemeenskapspolisiëringsforum om 'n buurtwag in Rose Valley te begin. "Ons moet ons kinders en gemeenskap beskerm."
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'