OUDTSHOORN NUUS - Geen sake word ondersoek na drie ongelukke wat die afgelope naweek plaasgevind het nie.
Die eerste ongeluk was verlede Vrydag op die De Rust-pad naby die Dysselsdorp-afdraai toe 'n vragmotor, wat se band gebars het, die pad verlaat het.
Omstanders op die toneel het aan Oudtshoorn Courant gesê die linkervoorwiel van die vragmotor het gebars. Die bestuurder het beheer oor die vragmotor verloor waarna dit van die pad geloop het. Dit het deur 'n heining en bo-oor die treinspoor gery waarna dit teen 'n wal tot stilstand gekom het.
Die vragmotor het beeste vervoer. Boere in die omgewing het gehelp om die beeste van die vragmotor af te laai. Niemand is in die ongeluk beseer nie - ook nie die beeste nie.
Vrydagnag het 'n bakkie teen 'n paal vasgery. Volgens ao. Gretchen Micheals, woordvoerder van die Oudtshoorn-polisie, het die ongeluk in Voortrekkerweg om 00:50 naby Filco gebeur. Die bestuurder van die blou Ford Bantam het beheer oor die bakkie verloor en eers teen 'n verligte advertensiebord vasgery waarna dit 'n lamppaal getref het. Die bestuurder was alleen en het geen beserings opgedoen nie.
Saterdagmiddag het 'n taxi 'n boom in Parkweg naby die skouterrein getref. Die taxi het geen insittendes ingehad nie. Volgens Micheals het die bestuurder vir aankomende verkeer uitgeswaai waarna die taxi die boom getref het. Die bestuurder is lig beseer.
Vorige artikels:
Die Ford Bantam-bakkie het eers teen 'n verligte advertensiebord vasgery waarna dit 'n paal getref het.
Die taxi wat 'n boom in Parkweg getref het.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'