OUDTSHOORN NUUS - Verskeie watermeters is die afgelope week by huise afgebreek en gesteel en inwoners word gemaan om waaksaam te wees vir vreemdelinge wat skynbaar doelloos in strate ronddwaal en voor huise talm.
Die diefstalle het in Wesbank en Oudtshoorn-Noord plaasgevind.
Die jongste voorval was gisteroggend waar 'n verdagte in die omgewing van Oudtshoorn Vaardigheidskool in hegtenis geneem is vir die diefstal van 'n watermeter.
Volgens kapt. Louis Visser, woordvoerder van die Oudtshoorn-polisie het die skoolhoof die polisie ontbied nadat 'n watermeter by een van die skool se huise gesteel is. Die verdagte is naby die toneel betrap en gearresteer. Nog 'n verdagte is op 25 November deur 'n inwoner in Melvillestraat aangekeer nadat hy besef het sy bure se watermeter is afgesteel.
Hy het die persoon gekonfronteer en 'n sak met watermeters gekry wat die persoon skynbaar oor 'n heining gegooi het.
Een van die slagoffers het aan Oudtshoorn Courant gesê dat hulle oor die naweek deur iemand wakker gemaak is om te sê dat 'n sterk straal water by hulle erf uitspuit.
"Toe ons buite kom het ons gesien iemand het die palissadeheining oopgebuig en die watermeter gesteel. Die munisipaliteit het dit tydelik kom regmaak, maar volgens die persoon wat ons gehelp het, het hulle nie meer watermeters nie omdat dit heeltyd gesteel word. Hulle sal eers in Februarie volgende jaar die meter kan kom vervang."
Volgens dié inwoner is haar bure se meter ook dieselfde aand gesteel.
Meters wat in Wesbank gesteel is, is glo op die sypaadjie geleë. Dit is nie duidelik of die meters gesteel word ter wille van die kort stukkies koperpyp aan weerskante van die meter nie en of iemand die meters by die diewe koop nie.
'n Navraag oor watermeterdiefstal is aan die Oudtshoorn-munisipaliteit gestuur, maar dit is teen druktyd nie beantwoord nie.
Die persoon wat deur 'n inwoner in Melvillestraat aangekeer is nadat 'n watermeter gesteel is.
Die verdagte wat Woensdagoggend naby die Vaardigheidskool in hegtenis geneem is vir die diefstal van 'n watermeter.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'