Gallery Update Video
OUDTSHOORN NUUS EN VIDEO - Vyf verdagtes is Maandagmiddag, minute nadat hulle na bewering 'n kafee in Voortrekkerweg beroof het, in hegtenis geneem. Halaal Cafe is omstreeks 13:30 beroof, maar die polisie se blitsvinnige optrede het tot vinnige arrestasies gelei.
Abdelaziz Abddelgawad, 'n mede-eienaar van Halaal Cafe, het aan Oudtshoorn Courant vertel die voorval het so vinnig gebeur dat dit hulle aan 'n aksiefilm herinner.
Volgens hom was 'n werknemer, Rashid Jaffali, binne die winkel toe die voorval gebeur het.
LEES: Vyf verdagtes vas na roof
"Hy het die winkel beman toe 'n man die winkel binnekom en vir sap vra. Rashid het agtertoe gegaan om die sap te gaan haal toe die man 'n vuurwapen uitruk en hom teen die grond vaspen. Die ander mans het ook binne gekom en die winkel beroof."
Fotogalery: Verdagtes vas na roof op Oudtshoorn
Volgens Jaffali was hy bang en het hy nie geweet of die ander mans ook moontlik wapens by hulle het nie.
"Ek het so stil moontlik gelê. Hulle het 'n kaartmasjien, 'n lugtydmasjien, kontant en sigarette gesteel."
Volgens Jaffali het hy na die roof uit-gehardloop toe hy 'n polisievoertuig sien verbyry.
"Ek het hulle voorgekeer en 'n beskrywing van die Mercedes gegee. Hulle het toe die voertuig agternagesit."
Van links is Wageeh Ahmed, Abdelaziz Abddelgawad, Nader Tarek en Rashid Jaffali. Jaffali is deur een van die rowers met 'n vuurwapen teen die grond vasgepen.
Volgens kapt. Louis Visser, woordvoerder van die Oudtshoorn-polisie, het die twee beamptes per radio vir versterkings gevra en die Mercedes tot in die industriële gebied naby Eskom gevolg waar hulle dit voorgekeer het.
Kyk 'n video hieronder:
"Een van die rowers het uit die voertuig gespring en gehardloop. Hy het toe oor Eskom se muur gespring en sy been gebreek. Hy is na die hospitaal geneem. Die ander vier verdagtes is by die motor in hegtenis geneem."
Die toneel in die industriële gebied waar die Mercedes deur die polisie vasgetrek is.
Volgens 'n ooggetuie wat in 'n nabygeleë perseel was, het die verdagte by 'n erf ingehardloop, op 'n bankie naby die heining vasgetrap en bo-oor die heining gespring. Die erf aan die ander kant van die heining is egter baie laer as die een waaruit hy gespring het en met die val het hy sy been gebreek. "Ons het hek toe gehardloop om te wag dat hy uitkom, maar toe sê iemand die man lê langs die heining en kan nie opstaan nie," het die persoon gesê. Dit blyk dat die polisie die beseerde hospitaal toe geneem het nadat 'n ambulans skynbaar nie beskikbaar was nie.
Al die gesteelde goedere is teruggevind en daar is ook vasgestel dat die vuurwapen 'n gaspistool was. Met die aankoms van Oudtshoorn Courant op die toneel waar die voertuig voorgekeer is, was vier verdagtes reeds in 'n polisievoertuig gelaai. Forensiese deskundiges het die bewysstukke uit die voertuig gehaal en ook vingerafdrukke in die voertuig geneem.
Volgens sers. Gretchen Micheals, nog 'n woordvoerder, het vier van die vyf verdagtes reeds in die hof verskyn. " Square Kawaka, Nizon Radalph, Daphton Joseph en Zain Wilson het Woensdag in die hof op aanklagte van besigheidsroof verskyn. Daar is tans nie genoeg bewyse teen die vyfde verdagte nie," het sy gesê.
Dit is die derde kafee in 'n maand wat beroof is. Aan die einde van Augustus het Indraf Kafee ook onder 'n gewapende roof deurgeloop en kort daarna is PP Kafee in Adderleystraat ook beroof. Die verdagtes in daardie voorvalle is ook vinnig deur die polisie vasgetrek.
Die voertuig word deur die polisie deursoek.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'