OUDTSHOORN NUUS - Die Oudtshoorn Besigheidskamer het verlede Donderdagaand sy eerste netwerkaand vir 2019 by die Klein Karoo Ostrich Emporium gehou. Sowat 60 gaste het die netwerkaand bygewoon wat deur Camp Roadhouse en die Signa-groep geborg is.
Twee nuwe lede, Riaan Byleveld (Cango Platters & Pastries) en Langenhoven Gimnasium, is ook tydens die geleentheid as nuwe lede van die besigheidskamer voorgestel.
Dr. David Piedt, voorsitter van die onderwys en opleidingwerkgroep, was die gasspreker van die aand. Tydens sy spreekbeurt het hy veral gefokus op die rol wat die besigheidskamer van Oudtshoorn kan speel.
Volgens Piedt behoort die besigheidskamer se mandaat wyer te strek as wat tans die geval is. "Oudtshoorn is 'n diverse gemeenskap wat gebuk gaan onder vele ekonomiese uitdagings.
"Indien die besigheidskamer se benadering in die toekoms meer inklusief is, sal ons die minderbevoorregtes inspireer om meer onafhanklik te dink en te doen."
"Die besigheidskamer is die ekonomiese kompasaanwyser van die dorp, en beskik ook oor heelwat finansiële hulpbronne en infrastrukture wat 'n wesenlike verskil kan maak om ons plaaslike behoeftiges te bemagtig." Piedt wou ook weet waarom die plaaslike munisipaliteit traag is om grond vir ontwikkeling en behuising beskikbaar te stel.
"Swak kommunikasie met ons gemeenskapsleiers en belangrike rolspelers is egter een van die groot redes waarom 80% van nasionale munisipaliteite disfunksioneel is."
Gaste luister aandagtig na Piedt se toespraak.
Hy het voorts gemeenskappe aangemoedig om nie net te sit en kritiseer nie, maar om aktief aan publieke demonstrasies deel te neem om sodoende die breë gemeenskap na die "beloofde land" toe te neem wat hulle jare terug beloof is. "As ons onsself roem op die leuse "a town to live, play, work, learn and to prosper", dan moet ons ons geld sit, waar ons mond is, het Piedt gesê.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'