Update
OUDTSHOORN NUUS - Die DA se federale uitvoerende raad het Maandag hulle voet neergesit en die burgemeester van Oudtshoorn, Colan Sylvester, met skorsing gedreig indien hy nie met ses weke verpligte verlof gaan nie. Die stap volg na 'n besoek van lede van die federale raad op 2 Augustus.
Volgens Bonginkosi Madikizela, provinsiale leier van die DA, was daardie besoek genoodsaak deur die voortslepende onenigheid in die DA-raad en die onmin tussen die burgemeester en die munisipale bestuurder, Allen Paulse.
Die kwessie is reeds teen die einde van Maart onder die leierskap se aandag gebring, maar het nie verbeter nie. Die burgemeester het vroeër vanjaar kriminele klagte teen Paulse gelê en in reaksie op wat daarna gevolg het, is klagtes by die DA teen die burgemeester gelê.
Sylvester is na afloop van die besoek versoek om ses weke verlof te neem terwyl die ondersoek oor klagtes onderneem word. Hy het egter gesê hy is bereid om van DA-aangeleenthede verlof te neem, maar nie as burgemeester nie.
Madikizela het verlede week gesê die federale raad bespreek Sylvester se reaksie en die gevolg daarvan was 'n brief van die federale raad se ondervoorsitter, Natasha Mazzone, wat Maandag aan Sylvester gestuur is. Die brief is op een of ander manier aan die publiek "gelek" en is wyd op sosiale media versprei.
Uit die brief blyk dit dat die burgemeester in sy aanvanklike reaksie onder andere gevra het om eers met God en lede van sy kerk te praat voordat hy 'n besluit neem. Mazzone het gesê dat hy daardie geleentheid gegun is en dat hy tydelik uit sy amp geskors gaan word indien hy nie die ses weke verpligte verlof neem nie.
Die munisipale woordvoerder, Ntobeko Mangqwengqwe, het Woensdag bevestig dat die burgemeester nou onbepaald met verlof is en dat die onderburgemeester, Noluthando Mwati, as burgemeester waarneem.
Volgens die brief van Mazzone mag Sylvester nie die raadskantore betree of aan enige raadsverrigtinge deelneem tydens sy verlof nie. Hy mag ook geen amptenaar nader vir enige dokumentasie nie.
'n Federale regskommissie sal die ondersoek na bewerings teen hom in sy amp as burgemeester, ondersoek.
Lees vorige artikels:
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'