OUDTSHOORN NUUS - Hy is bereid om vir ses weke nie aan party-aangeleenthede deel te neem nie, maar hy gaan nie vir ses weke afsien van sy amptelike pligte as burgemeester nie.
Dit was Woensdag die reaksie van Colan Sylvester, uitvoerende burgemeester, nadat die DA se provinsiale leier voorgestel het Sylvester neem ses weke verlof terwyl klagtes teen hom ondersoek word.
Bonginkosi Madikizela, Wes-Kaapse leier van die DA het Dinsdag in 'n telefoniese onderhoud gesê die DA is besig om indringend na die spanning tussen die burgemeester en die munisipale bestuurder, Allen Paulse, te kyk.
Hulle is ook besorg oor die spanning wat daar tans in die DA-koukus heers. Madikizela en Eleanore Bouw-Spies Oudtshoorn se DA-kiesafdelingshoof, vergesel deur nog twee senior DA-lede, het verlede Vrydag met die DA-raadslede vergader.
Dit volg nadat die burgemeester en 'n aantal raadslede op 28 Junie in 'n komiteevergadering besluit het om die munisipale bestuurder in kennis te stel dat hy geskors gaan word omdat daar klagtes teen hom aanhangig gemaak is.
Allen Paulse, munisipale bestuurder van Oudts-hoorn. Foto: Hannes Visser
Volgens inligting wat die Oudtshoorn Courant bekom het, was die besluit deur die burgemeester en die meerderheid DA-raadslede teenstrydig met 'n opdrag van die DA se provinsiale leierskap. Dit blyk dat 'n aantal raadslede wat die burgemeester met die besluit ondersteun het, intussen hulle steun onttrek het.
Alhoewel die munisipale bestuurder aan die begin van Julie 'n brief ontvang het om hom in te lig dat sy skorsing oorweeg word, het die mosie tot op hede nie voor die raad gedien nie, en gaan hy dus voort met sy werksaamhede.
Madikizela het nie uitgebrei oor die ondersoek wat deur die DA beplan word nie. Hy het net gesê dit is sy mening dat die ondersoek sonder inmenging begin kan word indien die burgemeester instem om met verlof te gaan.
Intussen het die burgemeester 'n brief aan die DA se federale uitvoerende komitee geskryf waarin hy reageer op die DA se versoek. Volgens Madikizela sou daardie brief hierdie week aan die komitee voorgelê word vir 'n finale besluit.
Wat die klagtes deur die burgemeester teen die munisipale bestuurder aanbetref, het Madikizela gesê dit val nie onder die jurisdiksie van die DA nie.
"Meneer Paulse is 'n munisipale amptenaar en klagtes wat teen hom ingedien is, sal deur die Wes-Kaapse minister van plaaslike regering, Anton Bredell, ondersoek word."
Na afloop van die leierskap se besoek verlede Vrydag is daar ook 'n moontlikheid dat sekere DA-raadslede van Oudtshoorn met raadslede van die Garden Route-distriksmunisipaliteit plekke sal ruil. Volgens Madikizela is hulle bekommerd oor die spanning in die DA en een van die moontlikhede om dit op te los, is om raadslede elders te ontplooi totdat die situasie opgelos is.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'