Update
OUDTSHOORN NUUS - ‘n Brief wat deur die DA se federale uitvoerende raad aan die burgemeester gestuur is, word tans wyd onder mense en op sosiale media versprei.
Die brief volg op ‘n besoek van lede van die federale raad drie weke gelede waartydens samesprekings met die dorp se DA raadslede gevoer is.
Na afloop van daardie besoek is die burgemeester, Colan Sylvester, aanbeveel om ses weke verlof te neem terwyl ‘n ondersoek na klagtes teen hom onderneem word. In reaksie op die versoek het Sylvester gesê hy is bereid om vir ses weke aan alle DA-aangeleenthede te onttrek, maar dat hy met sy pligte as burgemeester sal voortgaan.
Uit die brief wat vandag aan die lig gekom het, blyk dit egter dat Sylvester se reaksie nie aanvaarbaar is nie.
Die brief is deur die ondervoorsitter van die DA se federale raad aan Sylvester gestuur. In die brief stel Natasha Mazzone dit duidelik dat die burgemeester nie ‘n keuse het nie. Sou hy nie die ses weke verlof neem nie sal hy geskors word totdat die ondersoek afgehandel is.
Daar is reeds vir maande ‘n broeiende kwessie tussen die burgemeester en die munispale bestuurder van Oudtshoorn, Allen Paulse. Sylvester het klagtes teen Paulse gelê en Paulse was na ‘n raadsvergadering in kennis gestel dat hy tydelik geskors gaan word.
Daardie besluit is egter nooit deur die raad goedgekeur en uitgevoer nie.
Die Oudtshoorn Courant het vanoggend ‘n navraag aan die burgemeester gestuur om vas te stel of hy hom by die besluit van die federale raad gaan berus of nie.
Lees 'n vorige artikel: Burgemeester moet verlof vat sê DA
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'