CALITZDORP NUUS - Die Calitzdorp-polisie het verlede week 'n man vir die besit van vermoedelik gesteelde eiendom in hegtenis geneem nadat hy na bewering die goed in sy besit aan die brand gesteek het en ’n polisiebeampte aangerand het.
Volgens Khaki Willemse, 'n buurtwaglid, het die polisie inligting oor moontlike gesteelde goedere van die publiek ontvang wat gelei het tot ’n operasie by ’n woning in Koningstraat.
"Met die aankoms van die polisie het ’n man die polisie verhoed om toegang tot die perseel te verkry.
"’n Versterkte groep polisielede, asook die buurtwag het op die woning toegeslaan. Die vermeende dief het selfs ’n polisiebeampte na bewering aangerand."
Volgens hom het die verdagte van die gesteelde goedere binne die woning aan die brand gesteek.
"Die vlamme het sy lewe, die van sy vrou en kind bedreig. Een van die twee het die kind by die woning uitgegooi en die polisiebeamptes het die kind gevang."
Willemse vertel die verdagte het te voet gevlug, maar die polisie het die 28-jarige vinnig ingehaal.
"Verskeie gesteelde goedere, waaronder ’n plasma-televisiestel en ander elektriese toestelle is later in ’n beboste area gevind."
Volgens kapt. Malcolm Pojie, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, staan die verdagte tereg op aanklagte van brandstigting en besit van gesteelde goedere.
"Meer klagtes kan bygevoeg word soos die ondersoek ontvou."
'Ons bring jou die nuutste Calitzdorp, Klein Karoo nuus'