OUDTSHOORN NUUS - Die brand wat gister in die omgewing van die Raubenheimerdam en Rust en Vrede-waterval aangemeld is, brand steeds.
Volgens ‘n persverklaring van die Garden Route distriksmunisipaliteit is die brand tans Suid-Oos van die dam en oor ‘n area van ongeveer 40 hektaar versprei.
Brandbestryders op die grond kon gisteraand die brand aan die Noord-Oostekant blus.
Die gedeelte waar die brand tans woed is egter onbegaanbaar en het vanoggend omstreeks 06:45 sterker begin brand.
Daar word gevrees dat hierdie deel van die brand na ou plantegroei kan versprei en sodoende strukture en boorde in die rigting van Oude Muragie kan bedreig.
Volgens die persverklaring word daar tans dringend gekyk na pogings om die brand uit die lug sowel as op die grond te bestry en te verhoed dat dit verder versprei.
Gister was daar reeds 5 branbestryders van GRDM sowel as 10 van CapeNature op die toneel om die brand te bestry en 23 brandbestryders van Working on Fire sou vanoggend by hulle aansluit.
Die oorsaak van die brand is nie bekend nie. Die area waar dit tans brand behoort aan CapeNature as deel van die Swartberg-bewaringsarea.
Vorige artikel: Wildfire: Raubenheimer Dam
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'