Update
OUDTSHOORN NUUS - Hy het nog probeer om sy twee susterskinders se lewens te red, maar dit was tevergeefs.
So vertel Nolin van Reenen (18), die oom van die twee kinders wat Sondagaand in 'n ongeluk op die Calitzdorp-pad dood is.
Die twee meisies, Mia Viola Lewis (8) en Jamy-Lee Brucelin Jonas (15) was saam met vier volwassenes agter in die kappie op 'n VW Caddy-bakkie toe dit 'n Ford-bakkie getref het.
Mia se ouers, Judith en Jumarius was twee van die volwassenes. Van Reenen was 'n passasier voor in die bakkie en sy broer Marlin het bestuur.
"Ons was die naweek by 'n begrafnis van 'n familielid en het Sondagaand terug Oudtshoorn toe gekom toe die ongeluk gebeur het."
Volgens hom het 'n Ford Ranger-bakkie in Oudtshoorn se rigting gery toe die bakkie 'n U-draai reg voor hulle gemaak het.
Die VW Caddy-bakkie waarin die niggies ten tyde van die ongeluk was. Foto's verskaf
"Die bakkie was voor ons en het sy flikker aangesit en van die pad afgery. Ons het aangeneem dat hy gaan stilhou, maar hy het reg voor ons ingedraai. Marlin het die ongeluk probeer vermy deur na die ander baan te swaai, maar het met die bakkie gebots.
"Die Caddy het 'n entjie op twee wiele gery en die kappie agterop die bakkie het met die impak van die ongeluk afgeruk. Die mense agterin het uitgeval."
Judith en Jumarius, is ernstig beseer.
Volgens Van Reenen het hy na die ongeluk eers na Jamy-Lee toe gehardloop.
"Ek het aan haar nek gevoel en gevoel dat sy nog 'n pols het. Ek het toe na Mia gaan soek. Een van die ander insittendes het haar toe reeds vir haar ma gegee. Sy was op daardie stadium nog met ons. Ek het terug gehardloop na Jamy-Lee toe en toe voel ek daar is nie meer 'n pols nie. Ek het probeer om haar by te bring en op haar bors begin druk, maar niks het gewerk nie. Ek het haar in my arms opgetel en gesien dat daar baie bloed by haar kop uitkom. Ek het geweet sy is weg."
Die Ford Ranger bakkie na die ongeluk op die Calitzdorp-pad.
Volgens hom het hy toe na Jumarius gegaan.
"Hy het op sy maag gelê. Ek wou hom nie omdraai nie, want ek was bang ek maak dit erger. Ek het hom gevra om my net 'n teken te gee dat hy lewe en hy het sy hande oop en toe gemaak. Die ambulanse het opgedaag en van daar af was als net 'n blur."
Judith het verskeie beserings aan haar kop en gesig opgedoen en het diep skaafwonde op haar lyf en bene. Sy sterk by die huis aan. Jumarius is in George-hospitaal opgeneem. James van Reenen, die oupa van die oorledenes, sê Jumarius het ernstige beserings opgedoen, veral aan sy kop en borskas, maar hy reageer wanneer mense met hom praat.
"Hy is nie in 'n koma nie, maar wel onder sedasie vir die pyn."
Van Reenen sê dit is vir die familie 'n groot skok.
"Drie van my kinders, Judith, Nolin en Marlin was in die ongeluk. Ons het twee kleinkinders verloor. Net Jamy-Lee se ma, Gail, was nie in die bakkie nie.
Die kinders word Saterdag saam begrawe. Die begrafnis begin om 10:00 by die huis in Suikerbossiehof 591 en 11:00 vanuit die Nicolaniasaal.
Kaptein Malcolm Pojie, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, het gesê 'n klag van strafbare manslag word ondersoek, maar niemand is in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.
Lees vorige artikels:
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'