Update
LADISMITH NUUS - 'n Verdagte (64) in die verkragting van 'n negejarige meisie wat sedert Maandagoggend gesoek is, is Woensdagmiddag in Oudtshoorn in hegtenis geneem. Die verkragting het Maandagoggend in Ladismith plaasgevind.
Volgens betroubare inligting wat deur die Oudtshoorn Courant ontvang is, is die man Woensdag by 'n vulstasie in Bridgton aangekeer waar hy vermoedelik 'n saamrygeleentheid gesoek het. Hy is herken nadat foto's en inligting van hom versprei is.
Volgens die inligting is daar ook 'n lasbrief uit vir sy arrestasie omdat hy in twee ander dorpe in die Wes-Kaap, Kleinvlei en Tulbagh, vir verkragting gesoek word. Hy het glo nie vir sy hofsake opgedaag nie en word as 'n vlugrisiko hanteer. Beide die klaers in die sake waarvoor die verdagte in die hof moes verskyn, is glo 16 jaar oud.
Die man se naam is aan die Oudtshoorn Courant bekend, maar kan nie bekend gemaak word voordat hy in die hof gepleit het nie. (In seksuele sake moet beskuldigdes eers pleit voordat hulle identiteit bekend gemaak word.)
Hy het verskeie byname, onder andere, Duiwel en Devil Eyes.
Kapt. Malcolm Pojie, die Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, het gesê die voorval waar die negejarige meisie in Ladismith verkrag is, het Maandag tussen 07:30 en 12:50 in die veld in Rocco Ferusstraat, Ladismith gebeur.
"Die kind het na bewering nie die oggend skool toe gegaan nie, en in die bosse voor haar huis weggekruip. 'n Man het glo die kind genader en haar R10 aangebied as sy hom die pad na Zoar sou wys."
Pojie sê die man het die geld aan die kind oorhandig en hulle het saam in die rigting van Zoar gestap.
"Die man het die kind se hand gegryp en haar in die bosse, ongeveer 400 meter van die naaste wonings af, ingesleep. Die area is nie sigbaar van die pad af nie. Hy het haar twee keer verkrag en vir haar gesê om te wag en hy het weggestap."
Volgens Pojie het die kind opgestaan en huis toe geloop.
"Sy het op daardie stadium niemand oor die voorval ingelig nie, al was haar pa by die huis. Sy het in die bed geklim en aan die slaap geraak."
Pojie sê die kind se pa het haar later in haar kamer aangetref en gesien dat sy bloei en toe haar ma gebel. Die ouers het glo aanvanklik gedink dat sy bloot seergekry het, maar toe haar ma haar bad het sy besef wat gebeur het.
Die meisie het 'n operasie in die George-hospitaal ondergaan en sterk tans in haar ouerhuis aan.
Volgens Pojie ondersoek die polisie ook die moontlikheid dat dieselfde verdagte verlede week ook so iets met 'n ander slagoffer probeer het. Hy het egter nie verdere inligting oor die voorval verskaf nie.
"Ons vra ouers om asseblief mooi te kyk na hul kinders en ekstra voorsorgmaatreëls te tref wanneer dit by die veiligheid van hul kinders kom. Lede van die gemeenskap moet ook asseblief alle verdagte aktiwiteite of persone by die polisie aanmeld." Die verdagte sou vandag (Vrydag) in die landdroshof op Ladismith verskyn.
Lees 'n vorige artikel: Polisie vra hulp na verkragting van 9-jarige
'Ons bring jou die nuutste Ladismith, Klein Karoo nuus'