LADISMITH NUUS - Die polisie is opsoek na enigiemand wat inligting het oor 'n verkragting van 'n negejarige kind wat op 11 Junie in Ladimsith plaasgevind het.
Volgens kaptein Malcolm Pojie, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, het die voorval Maandag tussen 07:30 en 12:50 in 'n oop veld in Rocco Ferusstraat, Ladismith gebeur.
"Die slagoffer is 'n negejarige meisie. Die kind het na bewering nie die oggend skool toe gegaan nie, en in die bosse voor haar huis weggekruip. 'n Man het glo die kind genader en haar R10 aangebied as sy hom die pad na Zoar sou wys."
Pojie sê die man het die geld aan die kind oorhandig en hulle het saam in die rigting van Zoar gestap.
"Die man het die kind se hand gegryp en haar in die bosse, ongeveer 400 meter van die naaste wonings af, ingesleep. Die area is nie sigbaar van die pad af nie. Hy het haar twee keer verkrag en vir haar gesê om te wag en hy het weg gestap."
Volgens Pojie het die kind opgestaan en huis toe geloop.
"Sy het op daardie stadium niemand van die voorval ingelig nie, al was haar pa by die huis. Sy het in die bed geklim en aan die slaap geraak."
Pojie sê die kind se pa het haar later in haar kamer aangetref en gesien dat sy bloei en toe haar ma gebel. Die ouers het glo aanvanklik gedink dat sy bloot net seergekry het, maar toe haar ma haar bad het sy besef wat gebeur het.
"Die slagoffertjie is in die hospitaal opgeneem en sal in George-hospitaal geopereer moet word. 'n Beskrywing van die man sal aan die publiek verskaf word sodra die meisie in staat is om met die polisie te praat."
Volgens Pojie ondersoek die polisie ook die moontlikheid dat dieselfde verdagte verlede week ook so iets probeer het met 'n ander slagoffer. Hy het egter nie verdere inligting oor die voorval verskaf nie.
"Ons vra ouers om asseblief mooi te kyk na hul kinders en ekstra voorsorgmaatreëls te tref wanneer dit by die veiligheid van hul kinders kom. Lede van die gemeenskap moet ook asseblief alle verdagte aktiwiteite of persone by die polisie aanmeld."
Enigiemand wat inligting het oor Maandag se voorval het kan die Oudtshoorn-polisie se eenheid vir familie-geweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe by 044 203 7500 of 08600 10111 skakel.
Alle inligting sal vertroulik hanteer word.
'Ons bring jou die nuutste Ladismith, Klein Karoo nuus'