OUDTSHOORN NUUS - Oudtshoorn- en De Rust-toerisme het Dinsdagaand 'n netwerkaand by die Cango Wildlife Ranch aangebied. Volgens Billy Engelbrecht, voorsitter van die Oudtshoorn- en De Rust-toerismekomitee, was die doel van die geleentheid om inwoners van die dorp en lede van die toerismekantoor op hoogte te bring van hoe dit met toerisme in die dorp gaan.
Engelbrecht het verwys na die onlangse bywoning van bemarkingsgeleenthede in die buiteland en die belangrikheid van sulke toere uitgelig.
"Ons sien die resultaat van ons besoeke veral aan die hoeveelheid buitelandse toeriste wat die Kango-grotte besoek.
"Die grotte is waarskynlik Oudtshoorn se grootste toeriste-attraksie en as ons sien hoe die syfers gegroei het in vergelyking met verlede jaar, weet ons ons bemarkingstrategie werk."
Volgens hom het die lede 'n geweldige belangrike rol in die oorsese bemarkingstoere gespeel.
"As dit nie vir ons lede was nie, sou dit nie moontlik gewees het om ons dorp en streek so suksesvol oorsee te bemark nie. Op ons eie kan ons dit nie doen."
Hugo Theart, waarnemende uitvoerende hoof van Kunste Onbeperk, het die gaste meer oor die opkomende kunstefees vertel.
"Dit is ongelooflik om te dink dat die KKNK al in sy 25ste jaar is. Dié fees is 'n reuse-inspuiting vir ons dorp en die hele dorp baat, veral finansieel, daarby."
Tammy Moult, assistent direkteur van toerisme van die Cango Wildlife Ranch, het die gaste oor die stigting vir bewaring van jagluiperds (Cheetah Preservation Foundation) ingelig.
Gaste en lede van die Oudtshoorn- en De Rust-toerismekantoor tydens hul netwerkaand. Foto: Hannes Visser
Volgens haar is die stigting 'n nie-winsgewende organisasie, iets waarop Cango Wildlife Ranch geweldig trots is.
"Jagluiperds is 'n bedreigde spesie in ons land en ons doel is om die oorlewing van die jagluiperd, sowel as ander bedreigde spesies te verseker, maar ook om mense op te voed oor die natuur en die diere."
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'