Update
CALITZDORP NUUS - Drie bejaarde inwoners van Calitzdorp het verlede Saterdag ter noue nood aan die dood ontkom na die huis waarin hulle gewoon het kort na beurtkrag aan die brand geraak het en tot op die grond afgebrand het.
Die eienaar van die huis, sy suster en haar man woon al 'n geruime tyd in die huis.
Volgens Erina Meiring, die drie bejaardes se buurvrou, het sy na 22:00 Saterdagaand 'n snaakse geluid buite haar huis gehoor en gaan ondersoek instel.
"Die krag het net 'n kort rukkie voor dit aangegaan na beurtkrag. Ek het iets gehoor en na die sitkamervenster gegaan en gesien die bure se huis brand."
Volgens haar woon hulle naby die Calitzdorp-munisipaliteit.
"Ek het dadelik uitgestorm en die bure gaan haal om te help. Van die bure het toe by die huis ingehardloop en die mense gaan help en ek het die polisie en die brandweer gebel en ook die buurtwag in kennis gestel."
Volgens Meiring het almal vinnig ingespring om te help en kon hulle die voertuie by die erf uittrek.
"Dit was verskriklik om dit voor my oë te sien afspeel, maar ongelooflik om te sien hoe vinnig inwoners van Calitzdorp kan inspring om te help. Die mense het alles in die brand verloor. Dit is net die wasmasjien wat op 'n beskutte plek gestaan het wat gered kon word."
Meiring sê die inwoners van die huis kon Saterdagaand tydelik verblyf kry en Sondag het die vrou en haar man se kinders hulle gaan haal. Die eienaar van die huis is glo ook verblyf aangebied tot hy weer 'n vaste woonplek kon kry.
"Die mense het so baie benodigdhede, van kos tot klere, aangedra. Dit is ongelooflik om te sien hoe 'n dorp se mense in nood kan saamstaan."
Oudtshoorn Courant het verneem dat Calitzdorp nie 'n brandweerstasie het nie en glo meer as 'n uur gewag het vir 'n brandweerwa om van Ladismith af te ry. 'n Navraag is in die verband aan Kannaland-munisipaliteit gestuur, maar teen druktyd is geen terugvoer ontvang nie.
Kapt. Ian Meyer, bevelvoerder van die Calitzdorp-polisie, het gesê geen gemene spel word vermoed nie en dat die oorsaak van die brand nog ondersoek word.
Die skade aan die huis na die brand. Foto's verskaf:
VORIGE ARTIKEL: Huis in puin gelê
'Ons bring jou die nuutste Calitzdorp, Klein Karoo nuus'