CALITZDORP NUUS EN VIDEO'S - Drie inwoners van Calitzdorp, twee mans en 'n vrou, het gisteraand 'n noue ontkoming gehad na die huis waarin hulle gewoon het afgebrand het.
Volgens Erina Meiring, 'n buurvrou van die drie mense, het die brand kort na beurtkrag gebeur.
Die oorsaak van die brand is nie bekend nie.
"Ek het so 22:00 gisteraand 'n vreemde geluid gehoor en toe ek by my sitkamervenster uitkyk het ek gesien die bure se huis is aan die brand."
Volgens Meiring is dit 'n broer, 'n suster en haar man, vermoedelik in hul sewentigs, wat in die huis gewoon het.
"Ek het dadelik die bure gekry om te help. Ek het ook die brandweer en die polisie gebel en dit op die buurtwag-groep geplaas. Die hulp van die mense in die omgewing was ongelooflik. Hulle het gehelp om al drie die inwoners ongedeerd uit die huis te kry en kon ook daarin slaag om die voertuie veilig weg te kry."
Meiring sê dit is net die mure van die huis wat nog oor is.
"Die drie mense het letterlik alles in die brand verloor. Al wat oor is, is die wasmasjien wat op 'n beskutte plek gestaan het."
Video's: Verskaf:
Volgens haar is die goedhartigheid van Calitzdorpers vir haar ongelooflik.
"Daar het al soveel mense kos en klere en ekstra goedjies gebring. Dit is regtig ongelooflik om te sien hoe behulpsaam almal is."
Meiring sê die vrou en haar man se kinders het hulle kom haal en die eienaar van die huis het glo ook tydelike verblyf gekry.
Indien nog iemand wil help kan hulle die NG Kerk by 066 288 0048 skakel.
Mense in die omgewing het gehelp om al drie die inwoners ongedeerd uit die huis te kry.
Mense in die omgewing het gehelp om al drie die inwoners ongedeerd uit die huis te kry.
Dit is net die mure van die huis wat nog oor is.
Dit is net die mure van die huis wat nog oor is.
'Ons bring jou die nuutste Calitzdorp, Klein Karoo nuus'