Update
OUDTSHOORN NUUS - Sy broer het hom na 14 maande nog nie om verskoning gevra omdat hy hom met 'n panga oor sy kop en skouer geslaan het nie. Hy sukkel ook om werk te kry omdat hy as gevolg van die beserings nie swaar items kan optel nie.
So het Gideon Sauls (27), ter strafverswaring van sy broer, Jan Swarts, in die Oudtshoorn-streekhof getuig.
Swarts is aan poging tot moord skuldig bevind en deur streeklanddros Ntsoki Moni tot ses jaar gevangenisstraf gevonnis.
Sy verweer dat hy in noodweer opgetree het, is deur die landdros verwerp.
Hy het getuig dat sy broer hom die aand van 9 Maart 2018 met 'n bottel wou slaan toe hy die panga gegryp het om hom te verdedig.
Die staatsaanklaer, Hyron Goulding, het die hof vir 'n swaar vonnis gevra omdat Swarts daarop uit was om sy broer dood te maak. En dit sou gebeur het as hul pa nie tussenbeide getree het nie.
Volgens Goulding is dit duidelik dat Swarts sekere dinge onthou en ander nie en dat hy nie in selfverdediging opgetree het nie. "Die enigste gepaste vonnis sal direkte gevangenisstraf van ten minste agt jaar wees," het Goulding gesê.
Swarts se regshulpprokureur, Wenzel Botha, het betoog dat elke persoon geregtig is om homself te verdedig. "Die beskuldigde se lewe was in gevaar en hy het hom verdedig.
Hy het die hof versoek om 'n groot gedeelte van die vonnis op te skort omdat Swarts 'n eerste oortreder is en sy pa en broer kan help met 'n inkomste vir die huis.
Die twee broers was in 'n woordewisseling omdat die beskuldigde glo die betrokke aand met sy vriendin in die huis wou slaap.
Streeklanddros Ntsoki Moni het in haar uitspraak gesê die klaer het wonde aan sy kop en skouer van onderskeidelik 8 cm en 11 cm lank opgedoen waarvoor hy hegsteke ontvang het.
"Die beskuldigde se lewe was nooit in gevaar nie en hy kon nie verduidelik hoe hy homself verdedig het nie. Hy toon ook geen berou nie. Die klaer kon gesterf het indien hy nie vinnig mediese hulp ontvang het nie," het die landdros gesê.
Sy het bevind dat 'n opgeskorte vonnis of korrektiewe toesig nie gepaste vonnisse sal wees nie end at dit van groter voordeel sal wees binne die tronk.
Lees 'n vorige artikel: Bakleiery tussen broers lei tot tronkstraf
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'