OUDTSHOORN NUUS - Sy broer het hom na 14 maande nog nie om verskoning gevra omdat hy hom met ‘n panga oor sy kop en skouer geslaan het nie.
Hy sukkel ook om werk te kry omdat hy as gevolg van die beserings nie swaar items kan opel nie.
So het Gideon Sauls (27), ter strafverwaring van sy broer, Jan Swarts, in die Oudtshoorn-streekhof getuig.
Swarts is aan poging tot moord skuldig bevind en deur streeklanddros Ntsoki Moni tot ses jaar gevangenisstraf gevonnis.
Sy verweer dat hy in noodweer opgetree het, is deur die landdros verwerp.
Hy het getuig dat sy broer hom die aand van 9 Maart 2018 met ‘n bottel wou slaan toe hy die panga gegryp het om hom te verdedig.
Die staatsaanklaer, Hyron Goulding, het die hof vir ‘n swaar vonnis gevra omdat Swarts daarop uit was om sy broer dood te maak. En dit sou gebeur het as hul pa nie tussenbeide getree het nie.
Lees die volledige artikel in Vrydag se Oudtshoorn Courant, asook aanlyn.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'