Update
OUDTSHOORN NUUS - ‘n Apostel wat sy eie kerk op Beaufort-Wes bedryf, is Maandag in die Oudtshoorn-streekhof aan die verkragting van ‘n 12-jarige meisie skuldig bevind en twintig jaar gevangenisstraf opgelê.
Die kind was tien jaar toe sy vir die eerste keer verkrag is. Streeklanddros Daniël Boks het die 63-jarige Gert Brooks se getuienis as vals verwerp.
Die hof het die kind as ’n geloofwaardige getuie beskryf wat ‘n kronologiese uiteensetting gegee het van wat met haar gebeur het terwyl die beskuldigde, ten spyte van verdoemende getuienis teen hom, tot die einde alles ontken het.
Die kind het getuig dat sy altyd saam met ander kinders na die apostel se huis gegaan het om te help met die opmaak van pakkies vrugte en groente wat hy verkoop het.
Sy het egter by tye ook alleen gegaan om skottelgoed te was en dit was tydens dié besoeke dat die beskuldigde haar na sy slaapkamer geneem, ontklee en verkrag het.
Aanvanklik het sy stilgebly omdat sy geld, klere en lekkernye by die beskuldigde gekry het.
Tydens die Paasnaweek in 2018 het sy egter “baie hartseer” vir Lorraine Visser, wat by tye by die apostel gekuier het, vertel wat hy met haar doen. Brooks het gehuil en die kind om vergifnis gevra toe Visser hom daaroor gekonfronteer het.
Hy het die kind ook R20 gegee en aan Visser erken dat hy geslagsgemeenskap met die kind gehad het. Hy het haar ook gevra om vir hom te bid.
Tydens die verhoor het hy egter sy storie “sonder om te blik of te bloos” aangepas en gesê dat hy nie om vergifnis gevra het omdat hy seks met die kind gehad het nie, maar moontlik per abuis aan haar borste geraak het wanneer hy en die kinders “touchies” gespeel het.
Brooks se regsverteenwoordiger, Sakkie Croucamp, het vir ‘n opgeskorte vonnis gevra omdat Brooks ‘n eerste oortreder is en die kind nie fisiese beserings opgedoen het nie. Sy het volgens hom ook uit haar eie na die beskuldigde se huis gegaan.
Die staatsaanklaer, Elaine Plaatjies, het die hof vir ‘n lang gevangenisstraf gevra omdat dit ten spyte van sy ouderdom en siektetoestand die enigste gepaste vonnis sal wees.
“n Opgeskorte vonnis of enige ander vonnis sal die verkeerde boodskap uitstuur. Die beskuldigde is ‘n Godsman en leier van ‘n kerk, ‘n persoon na wie mense opkyk.
“Volgens getuienis voor die hof het hy die kind herhaaldelik, vandat sy tien jaar oud was, in sy huis verkrag.”
Volgens die landdros is Brooks aan ‘n verfoeilike, afskuwelike gruweldaad skuldig bevind en moet die weersin van die gemeenskap ook met vonnisoplegging in ag geneem word. Die kind se weergawe word gestaaf deur die getuienis van ‘n geneesheer wat haar ondersoek het.
Die hof het egter wel gronde gevind om van die voorgeskrewe vonnis van lewenslange gevangenisstraf af te wyk en Brooks tot 20 jaar tronkstraf gevonnis.
Hy is onbevoeg verklaar om ‘n vuurwapen te besit en sy naam sal in die nasionale register vir seksoortreders aangeteken word.
Vorige artikel:
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'