BEAUFORT-WES NUUS - Die saak teen ’n selferkende apostel van Beaufort-Wes, wat van verkragting van 'n 11-jarige meisie aangekla word, is Maandag in die Oudtshoorn-streekhof vir uitspraak tot Maart uitgestel.
Gert Brooks (63) pleit onskuldig en voer aan dat hy gereeld saam met kinders, wat hom by sy huis help met die opmaak van pakkies lekkers en vrugte, “Touchies” gespeel en moontlik aan die borste van die kind geraak het.
Die kind het volgens die staatsaanklaer, Elaine Plaatjies, getuig dat sy gereeld alleen na die beskuldigde se huis gegaan het om skottelgoed te was en hy haar glo meer as een keer betas en verkrag het.
Brooks het getuig dat hy nie kan verstaan waarom die kind die bewerings van betasting en verkragting maak nie.
Hy het getuig dat ‘n vriendin van hom, Lorraine Visser, wat gereeld by hom kom kuier het, gedurende Paasnaweek van 2018, van hom wou weet of hy aan die kind geraak het.
“Ek het ‘n baie slegte gevoel gehad en vir haar gesê dat ek moontlik die kind se borste kon geraak het en daarom om vergifnis gevra het. Dit was nie dat ek haar seksueel gemolesteer het nie,” het Brooks getuig.
Hy het ontken dat hy met die kind geslagsgemeenskap gehad het, maar moontlik per ongeluk aan haar borste kon geraak het.
Brookes het onder kruisverhoor egter ‘n ander deuntjie gesing en wel erken dat Visser hom spesifiek oor die betasting en verkragting van die kind gekonfronteer het en hy die kind toe om vergifnis gevra en haar R20 gegee het.
Volgens Brooks se regsverteenwoordiger, Sakkie Croukamp, het die kind leuens vertel dat sy nie vir Visser voor die Paasnaweek van 2018 geken het nie.
Die geneesheer wat haar ondersoek het se getuienis staaf ook nie haar getuienis nie en daar is volgens hom soveel leemtes in die staat se saak dat die beskuldigde nie skuldig bevind kan word nie.
Volgens die staatsaanklaer maak die geringe weersprekings in die kind se getuienis nie van haar ’n leuenaar of ongeloofwaardige getuie nie.
Sy het dit aan Brooks gestel dat hy die kind betas en verskeie kere verkrag het, en die hof gevra om hom skuldig te bevind.
Die saak dien voor streeklanddros Daniël Boks en is vir uitspraak tot 16 Maart uitgestel.
'Ons bring jou die nuutste Beaufort-Wes, Klein Karoo nuus'