OUDTSHOORN NUUS - Die Backyard Dwellers of Hope het verlede Vrydag 'n vreedsame optog vanaf Rose Valley na die Oudtshoorn-munisipaliteit gehad.
Hulle het 'n memorandum aan die onderburgemeester van Oudtshoorn aan Noluthando Mwati, oorhandig.
Brandon Delport, die ondervoorsitter van die Backyard Dwellers, het gesê dat die gemeenskap genoeg gehad het van die munisipaliteit.
"Die toekenning van nuwe huise word nie op 'n regverdige wyse gedoen nie. Daar word afgewyk van die waglys af en mense wat al 20 jaar op die lys is wag nog steeds op 'n huis. Die mense woon in haglike omstandighede en ons kan name en statistieke verskaf om te bewys dat die huise nie regverdig uitgedeel word nie.
"Bejaardes en persone met gestremdhede moet veral voorkeur kry wanneer huise oorhandig word."
Volgens Delport het hulle vroeër die jaar ook 'n optog na die munisipaliteit gehou met dieselfde griewe.
"Dit het egter op dowe ore geval. Ons gee die munisipaliteit 'n week om terug te kom na ons toe oor ons griewe."
Mwati het in haar toespraak belowe om oor 'n week weer met hulle te vergader.
"Ek het simpatie met julle. As onderburgemeester wil ek vir julle sê dat ek nie hier staan vir politiese doeleindes nie, maar my werk gaan oor julle en julle behoeftes."
Die Backyard Dwellers of Hope voor die Oudtshoorn-munisipaliteit.
Lees 'n vorige artikel: Vreedsame optog deur agterplaasbewoners
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'