OUDTSHOORN NUUS - Die Oudtshoorn-munisipaliiteit is 120 dae gegun om hulle onwettige rioolheffings reg te stel.
Dit is te danke aan AfriForum Oudtshoorn wat op 6 Oktober ’n oorwinning in die hooggeregshof in Kaapstad behaal het waar hulle die Oudtshoorn-munisipaliteit se onwettige rioolheffings betwis het.
Die hofsaak volg nadat die tak sedert 2018 briewe aan Anton Bredell, Wes-Kaapse minister vir plaaslike regering, omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning, gerig het en verskeie vergaderings met Bredell en die munisipaliteit belê het.
Volgens die munisipaliteit se vereistes word die rioolheffing per huishouding tans op die aantal toilette in die huis gehef.
AfriForum se regspan het voor regter Kate Savage verskyn en aangevoer dat die munisipaliteit se belasting wat per toilet in die huishoudings gehef word, teenstrydig is met wetgewing.
Dit beteken dat die rioolheffing wat tans as ’n heffing per toilet op die rekeningstaat verskyn nie in lyn is met wetgewing nie en die regter het die munisipaliteit 120 dae gegun om ’n regstelling te maak.
Hoewel die saak nie in die hof geopponeer is nie, het die regter steeds gevra dat AfriForum die saak voor haar argumenteer weens die omvang en belangrikheid daarvan.
Die uitspraak het nie net ’n impak op die Oudtshoorn-munisipaliteit nie, maar ook op verskeie ander munisipaliteite in die Wes-Kaap wat dieselfde praktyk volg.
“Ná al die vergaderings het Bredell AfriForum uitgedaag om die twispunt in die hof te toets. Die Oudtshoorn-tak is verheug oor hierdie belangrike oorwinning wat behaal is. Ons sal steeds streef om goeie samewerking met die munisipaliteit te handhaaf om ons dorp te verbeter. As burgerregtewaghond sal ons nie skroom om die munisipaliteit die stryd aan te sê as sake nie reg en regverdig verloop nie,” sê Johan Conradie, voorsitter van AfriForum se Oudtshoorn-tak.
“AfriForum het met hierdie saak weer eens bewys wat die waarde van ’n saamstaangemeenskap is. Ek wens graag die takbestuur geluk wat met doelgerigtheid en deursettingvermoë die kwessie tot ’n spits gedryf het,” sê Arno Greyling, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Suid-Kaap.
‘n Navraag is aan die Oudtshoorn munisipaliteit gestuur om te bepaal of hulle gehoor gaan gee aan die hofbevel en wanneer die rioolheffings aangepas gaan word.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'