Update Video
OUDTSHOORN NUUS - Ongelukke by die kruising van Baron van Reede- en Van der Rietstraat kom gereeld voor en inwoners voel dat ingryping by die kruising 'n saak van dringendheid is.
Die jongste voorval was verlede week toe 'n voertuig die nuutgeboude muurtjie om 'n blombedding op een hoek stukkend gery het.
Dit blyk dat die voorval wat op 20 of 21 April plaasgevind het, nie aangemeld is nie. Daar is wel 'n botsing op 22 April aangemeld toe 'n Nissan van agter teen 'n Toyota Corolla gebots het. Die blombedding was egter die vorige dag reeds beskadig en volgens bandmerke op die sypaadjie was dit moontlik 'n vragmotor wat dit getref het.
Werk aan die blombedding is die vorige week afgehandel nadat twee inwoners langer as twee weke daaraan gewerk het. Hester Verwey en Willem Burger, wat ook die middelmannetjie by die uitgang in die rigting van Calitzdorp verfraai het, het besluit om die bedding wat meer as 'n jaar gelede flenters gery is, te herstel.
Hulle moes egter verlede week teleurgesteld hoor hulle handewerk is weer verniel. Terwyl Hester sowat drie weke gelede aan die bedding gewerk het, was daar ook 'n botsing by die kruising.
Dat bestuurders onnadenkend by die kruising optree is duidelik. Terwyl Oudtshoorn Courant verlede week by die stukkende blombedding was, het 'n motor uit Van der Rietstraat in Baron van Reedestraat ingedraai sonder inagneming van aankomende verkeer en is byna deur 'n Mercedes getref. Binne minder as 15 minute was daar nog twee voorvalle waar bestuurders kanse vat en voor aankomende verkeer inry.
Kyk 'n video hieronder:
Volgens sers. Gretchen Michaels, woordvoerder van die Oudtshoorn-polisie was daar op Saterdag 17 April, ook 'n botsing by die kruising. Dit het plaasgevind toe die bestuurder van 'n Toyota Conquest in Van der Rietstraat die kruising oorgesteek het sonder om te stop. Die motor is deur 'n aankomende Toyota Quantum-bussie wat met Baron van Reedestraat onderweg was, getref.
Die bestuurder van die Conquest is op die toneel vir dronkbestuur gearresteer.
Alhoewel twee ander kruisings op die besige pad deur Oudtshoorn ook berug is vir botsings, blyk dit dat die meeste botsings by die kruising van Baron van Reede- en Van der Rietstraat voorkom.
Na een van die ernstige botsings by dié kruising het die munisipaliteit op 'n stadium aangedui dat daar na moontlike oplossings gekyk sal word.
'n Navraag met die oog op 'n opvolgberig oor moontlike oplossings vir die brandpunt is hierdie week aan die munisipaliteit gestuur en sal volgende week opgevolg word.
Hester Verwey by die blombedding nadat sy die herstelwerk en verfraaiing voorverlede week afgehandel het.
Die blombedding nadat dit verlede week deur 'n vragmotor getref is.
Vorige artikel: Kruising kort dringende ingryping
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'