OUDTSHOORN NUUS - ’n Man van Royal Heights, Calitzdorp, wat tereg gestaan het op aanklag van moord, is onlangs in die Oudtshoorn-streekhof aan aanranding met die opset om ernstig te beseer skuldig bevind en vir agt jaar tronk toe gestuur.
Adrian Gerber (29) het die aand van 21 September 2018 die 26-jarige Elrico Booysen vier keer met ‘n houtpaaltjie oor sy kop geslaan, waarna hy ‘n paar dae later, in die Grootte Schuur-hospitaal aan sy beserings beswyk het.
Gerber se weergawe dat die oorledene die betrokke aand sterk onder die invloed van alkohol was, op bierbottels en hout gegly, en daarna met sy kop teen ‘n muur en toe op ‘n sementblad geval het, is deur streeklanddros Ntsoki Moni verwerp.
Hy is egter onskuldig bevind op die aanklag van moord.
Die landdros het met vonnisoplegging gesê die enigste gepaste vonnis vir die wreedheid van die misdaad is direkte gevangenisstraf.
Gerber se moeder het na die oplegging van vonnis onbedaarlik begin huil waarna die landdros polisiebeamptes gevra het om haar uit die hof te neem.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’