Update
OUDTSHOORN NUUS - Sestien verdagtes wat met 'n dwelm-sindikaat verbind word, het almal Dinsdag 18 April, in die Oudtshoorn-landdroshof voor landdros Stephanie Strydom verskyn.
Hulle het die uitspraak van hul onderskeidelike borgtogaansoeke aangehoor.
Louis Emezo (36), wat teenwoordig was tydens Dinsdag se hofverrigtinge, het op 3 April voor landdros Vaughn Shone verskyn en reeds sy uitspraak aangehoor.
Hierdie verdagtes is op 16 Maart in hul wonings in die Suid-Kaap en Gqeberha, tydens 'n reeks klopjagte in hegtenis geneem. Hulle staan op aanklagte van onderskeidelik dwelmhandel, geldwassery en rampokkery, tereg.
Volgens Zinzi Hani, woordvoerder van die Valke, het hierdie dwelmsindikaat die Suid-Kaapstreek beheer. Hulle het hoofsaaklik die Tuinroete-distrik, naamlik George, De Rust, Oudtshoorn, Ladismith, Pacaltsdorp en Calitzdorp, geteiken - waarvan die hoofverskaffers van George en Gqeberha was.
Strydom het voor haar uitspraak gesê dat die verdagtes sedert 2018 tot 2020 aangekla is, en dat drie jaar verloop het voordat enige arrestasies gemaak is.
Volgens Strydom het die verdagtes hul borgtogaansoeke in die vorm van 'n beëdigde verklaring ingehandig. Sy het gesê dat dit die borgtogaansoek se uitspraak bemoeilik omdat geen kruisverhoor kon plaasvind en daar geen argumente teen die beëdigde verklarings gemaak kan word nie.
Die borgtogaansoeke is as volg hanteer:
- Manfred John (36) - borgtog is geweier omdat die staat voel dat daar 'n sterk saak teen hom is.
- Marshal Mclune (32) - borgtog van R5 000 is toegestaan.
- Vincent Goba (49) - borgtog van R1 000 is toegestaan.
- August Wild (48) - borgtog van R1 000 is toegestaan.
- Ann Erasmus (58) - vrygelaat op waarskuwing.
- Vivian Arries (46) - borgtog van R1 000 is toegestaan.
- Wilburg Paulsen (39) - borgtog geweier omdat hy reeds hangende sake teen hom het en die staat bang is dat hy betrokke sal raak by skedule een sake.
- Arlington Hurling (40) - borgtog geweier omdat die hof na sy vorige gedrag gekyk het en die waarskynlikheid dat hy weer by die misdaad betrokke sal raak bestaan. Hy het nege vorige sake teen hom, waarvan die laaste drie almal dwelmverwant is.
- Shaun Hendricks (40) - borgtog geweier omdat hy vorige sake teen hom het wat almal verwant is tot die saak.
- Emile Jonas - borgtog van R1 000 is toegestaan.
- Malvin Jacobs (44) - borgtog van R20 000 is toegestaan. (Hy word deur Bradley Michaels van, Van Rooyen Prokureurs verteenwoordig).
- Reginald Fielies (58) - borgtog van R20 000 is toegestaan.
- Vladimir Gordon (36) - borgtog van R1 000 is toegestaan.
- Chantelle Manewill (26) - het nie haar borgtogaansoek ingehandig nie.
- Madalyna Adams (26) - is steeds op waarskuwing vrygelaat omdat sy 'n vyf weke oue baba het.
Strydom het die verdagtes wat borg-tog gekry het almal gemaan om die hofverrigtinge by te woon en ook nie by verdere misdaad betrokke raak nie.
Die borgtogaansoek van Louis Emezo (36) is op 3 April deur Shone geweier, omdat hy vorige veroordelings teen hom het en hy 'n vlugrisiko is aangesien 'n eenrigtingvliegtuigkaartjie na die Bahamas en 'n vals paspoort in sy besit gevind is.
Die saak is vir al 16 verdagtes deur Landdros Stephanie Strydom tot 22 Mei vir die afhandeling van die ondersoek, uitgestel.
Vorige artikel:
- 16 Verdagtes se saak uitgestel vir borgtogaansoeke
- Dwelmsindikaat vasgetrek
- 16 in court for involvement in drug-trafficking syndicate
- Hawks take down huge Southern Cape drug syndicate
Borgtog van R20 000 is aan Reginald Fielies toegestaan.
Borgtog van R20 000 is aan Melvin Jacobs toegestaan.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’