Update
OUDTSHOORN NUUS - Sestien verdagtes, wat onderskeidelik met 'n dwelm- en geldwasserysindikaat verbind word se saak is op 27 Maart in die Oudtshoorn-landdroshof, vir elkeen van die verdagtes se afsonderlike borgtogaansoek, uitgestel.
Landdros Stephanie Strydom het tydens die hofverrigtinge gesê dat die staat nog sekere inligting moet verifieer.
Sy het beklemtoon dat hierdie 'n aansoek om kollektiewe borgtog is, en dat sy met die borgtogaansoeke kan begin, maar dat dit dalk nie op dieselfde dag voltooi sal kan word indien daar inligting uitstaande is nie.
Verdagte 13, Louis Emezo, het nog nie 'n prokureur aangestel nie. Hy het aangedui dat hy 'n tolk tydens die verhoor sal benodig, maar later van plan verander en gesê dat die verhoor in Engels mag voortgaan.
Strydom het genoem dat sy dan wel Maandag met die borgtogaansoeke sal begin, maar dat sy tog sal uitvind rakende 'n tolk vir hom.
Emezo sal teen Maandag, nadat hy 'n prokureur aangestel het, aandui of hy ook vir borgtog aansoek wil doen. Al die ander verdagtes het reeds onderskeidelik regshulp of verteenwoordigers aangestel.
Agtergrond
Die verdagtes is op 16 Maart in hul verskillende wonings in die Suid-Kaap en Gqeberha, tydens 'n reeks klopjagte, in hegtenis geneem. Hulle staan op aanklagte van onderskeidelik dwelmhandel, geldwassery en rampokkery, tereg.
Volgens Zinzi Hani, woordvoerder van die Valke het die ondersoek oor 'n geruime tydperk gestrek, en het dit die ondersoekspan gehelp om insig in die kriminele aktiwiteite van die sindikaat te kry.
Dit het tot die suksesvolle inhegtenisneming van al die beskuldigdes gelei.
Hani het ook gesê dat hierdie dwelmsindikaat die Suid-Kaap streek beheer het en hulle hoofsaaklik die Tuinroete-distrik, naamlik George, De Rust, Oudtshoorn, Ladismith, Pacaltsdorp en Calitzdorp, geteiken het - waarvan die hoofverskaffers van George en Gqeberha is.
Al die verdagtes bly in aanhouding behalwe Madalyna Adams wat op waarskuwing vrygelaat is omdat sy 'n vier weke oue baba het.
Staatsaanklaer Brandon Smith het die staat op 27 Maart verteenwoordig en sal die borgtogaansoeke behartig.
Die saak is tot 3 April uitgestel.
Vorige artikel:
- Dwelmsindikaat vasgetrek
- 16 in court for involvement in drug-trafficking syndicate
- Hawks take down huge Southern Cape drug syndicate
Madalyna Adams
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’