OUDTSHOORN NUUS - Een persoon is dood en vyf ander, waaronder 'n negejarige meisie, is ernstig beseer na 'n botsing reg van voor Saterdagaand op die De Rust-pad.
Kerneels Karelse, wat in die botsing dood is, sy vrou Elize en hul kleindogter, Cassie, was van Oudtshoorn af op pad na Dysselsdorp toe die ongeluk gebeur het.
Hulle het met 'n Ford Escort gery.
Volgens Elize kan sy nie baie van die ongeluk onthou nie.
"Ek onthou daar was 'n vragmotor en ek onthou daar was nog 'n motor betrokke.
"Ek is nie seker of die voertuig probeer verby gaan het en toe in ons vas is nie en of ons in die vragmotor vas is nie," het sy aan die Oudtshoorn Courant vertel.
Sy het 'n oop wond aan haar kop en kneusmerke aan haar lyf opgedoen.
Cassie het haar arm gebreek.
Colin Gelderbloem, wat ook in die ongeluk betrokke was, vertel hy en vriende het Saterdagaand in drie voertuie vanaf Beaufort-Wes gery.
"Voor ons het 'n goue VW Golf gery, agter hulle was my vriende in die Honda en toe ons in die Polo.
"'n Motor het van Oudtshoorn se kant af gery en net skrams die agterwiel van die vragmotor getref.
"Die vragmotorbestuurder het dit nie eens gevoel nie en hy het aangery. My vriende in die VW Golf het besef hier gaan probleme kom en is links van die pad af.
Kerneels Karelse. Foto verskaf
"Dit het egter 'n geweldige stofwolk veroorsaak en my vriende in die Honda het toe reg van voor met die motor wat teen die vragmotor vas is gebots. Ek is toe agter in hulle in. Ek kon darem bietjie uitswaai, so dis net die regter voorkant van my kar wat in hulle vas is," het hy vertel.
Volgens hom was daar drie insittendes in die Honda.
"Die bestuurder het vasgesit en is met meganiese toerusting uit die motor gesny.
"Hy het sy linkerbeen gebreek en is in George-hospitaal waar hy geopereer gaan word. Sy broer se heup het uitgehaak en sal dalk ook geopereer moet word.
"Die derde persoon wat in die voertuig was is reeds ontslaan," het hy gesê.
Elize Karelse (regs) en Cassie, Karelse se kleindogter.
Volgens hom was hulle ook drie insittendes in sy voertuig.
"Niemand wat in my kar was het seergekry nie."
Karelse word eerskomende Saterdag om 10:00 vanuit die Volkskerk in Dysselsdorp begrawe. Daar sal om 09:00 'n diens by die huis gehou word.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'