KANNALAND NUUS - Dit blyk dat die sogenaamde "misverstand" rondom die graf van die 81-jarige Katie Herandien van Ladismith, wat verlede jaar aan 'n ander familie toegeken is, moontlik nie 'n geïsoleerde voorval is nie.
Oudtshoorn Courant het verlede week berig oor die ontstellende situasie waarmee Herandien se familie gekonfronteer word nadat hulle ontdek het dat iemand anders reeds in haar gereserveerde graf begrawe is.
Herandien-graf
Volgens Madeleine Breda, Herandien se kleindogter en 'n voormalige inwoner van Ladismith, was die familie geskok toe hulle teen die einde van 2025 uitvind dat die graf wat vir haar ouma bestem was, reeds gebruik is.
Breda verduidelik dat haar stiefoupa, Willem Herandien, in 2023 oorlede is en dat dit haar ouma se wens was om eendag langs haar man begrawe te word.
'n Grafsteen is in 2025 op Willem se graf opgerig, terwyl die aangrensende graf, wat met draad en penne afgemerk was, vir haar ouma gereserveer gebly het.
Daar is later vasgestel dat Francis Saaiman in dié graf langs Willem Herandien begrawe is.
Volgens Breda het die familie reeds met Kannaland-munisipaliteit vergader en versoek dat die liggaam wat tans daar begrawe is, opgegrawe en verskuif word.
Saaiman-graf
Abraham Saaiman, seun van Francis Saaiman, sê egter hul familie het ook grafte in dieselfde begraafplaas gereserveer gehad, hoewel dit aanvanklik op 'n ander plek was. Sy pa is volgens hom eerste oorlede en in sy gereserveerde graf begrawe, maar met sy moeder se dood is 'n ander graf langs haar man aan die familie toegeken.
"Die munisipaliteit het hierdie spesifieke graf, waaroor daar nou 'n dispuut bestaan, aan ons uitgewys. Ons het nie self besluit om my ma hier te begrawe nie," het Saaiman gesê.
Willem Herandien se graf (links) met Francis Saaiman se graf. Foto: Verskaf
Hy beklemtoon dat hul familie nie kwaadwillig opgetree het nie en dat hulle ook vir hul ouers se grafte betaal het. Volgens hom sal hulle egter nie toestem dat sy moeder se oorskot opgegrawe word nie.
"Sodanige oneer kan nie aan my ma gedoen word nie," het hy gesê.
Breda sê die munisipaliteit het intussen verduidelik dat 'n opgrawing 'n formele regsproses behels en dat toestemming van die betrokke familie vereis word.
"Ons verstaan die proses en voel jammer vir die ander familie, maar die munisipaliteit moet verantwoordelikheid neem vir wat gebeur het," het sy gesê.
Manuel-graf
Intussen het nog 'n familie 'n soortgelyke ervaring in Zoar aangemeld. Henriette Arendse, tans 'n inwoner van Macassar in die Kaap, vertel dat haar tannie, Elizabeth Susara Manuel, in 1999 oorlede is, waar-na haar oom, Matthew Manuel, twee aangrensende grafte gekoop het.
"Toe my tannie begrawe is, is my oom se graf ook afgesper en gemerk. Ek het in Desember my tannie se graf besoek en met skok ontdek dat iemand anders in my oom se graf begrawe is," het Arendse gesê.
Volgens haar het haar oom die saak met Kannaland-munisipaliteit opgeneem, maar is hy meegedeel dat daar niks aan die situasie gedoen kan word nie.
Geen kommentaar
Teen druktyd het nóg Kannaland-munisipaliteit nóg die kantoor van die Wes-Kaapse minister van plaaslike regering, Anton Bredell, op die koerant se navrae gereageer.
Vorige berig:
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’