LADISMITH NUUS - Wat veronderstel was om 'n laaste rusplek langs haar oorlede man te wees, het vir die 81-jarige Katie Herandien en haar familie in 'n ontstellende ervaring ontaard nadat hulle ontdek het dat 'n graf wat vir haar in die Ladismith-begraafplaas gereserveer en betaal is, glo aan 'n ander persoon toegeken en gebruik is.
Madeleine Breda, 'n voormalige inwoner van Ladismith, sê die familie kon nie glo wat gebeur het toe hulle teen die einde van 2025 uitvind dat iemand anders reeds in haar ouma se graf begrawe is nie.
Volgens Breda is haar stiefoupa, Willem Herandien, in 2023 oorlede, en is dit ook haar ouma se wens om eendag langs haar man begrawe te word. Die Herandien-familie is oorspronklik van Zoar afkomstig.
Katie Herandien woon tans saam met haar kleindogter in Kaapstad aangesien sy nie meer alleen kan bly nie. In 2025 is haar oorlede eggenoot se grafsteen opgerig.
"Toe was ouma se graf nog oop. Die graf was met draad en penne afgemerk, soos ander grafte wat vooraf gekoop word. Ons het R1 077,40 vir die graf betaal en beskik steeds oor die bewys van betaling. Teen die einde van verlede jaar moes ons egter met groot skok uitvind dat iemand anders reeds in my ouma se graf begrawe is," het Breda gesê. Oudtshoorn Courant het ook die bewys van betaling gesien.
Willem Herandien se graf met die graf langsaan waar sy vrou begrawe moes word. Foto: Verskaf
Volgens haar het die familie op 3 Desember 2025 'n vergadering met die munisipale bestuurder en twee direkteure van die Kannaland-munisipaliteit gehou om die situasie te bespreek.
"Hulle het vir ons twee opsies gebied: dat die liggaam van die persoon wat tans daar lê opgegrawe moet word, of dat 'n ander graf beskikbaar gestel word. Dit het vir ons gevoel asof die erns van die situasie nie werklik besef word nie. My ouma was só ontsteld oor die voorval dat sy in die hospitaal beland het."
Breda sê die familie het versoek dat die liggaam wat tans in die graf begrawe is, opgegrawe en verwyder moet word.
"Dit was my oupa se laaste wens dat my ouma langs hom begrawe moet word, en dit is steeds wat sy self wil hê. Ons glo die munisipaliteit behoort dié wens te respekteer."
Volgens haar het die familie sedert die vergadering nog geen verdere terugvoer van die munisipaliteit ontvang nie en het hulle uit radeloosheid op 20 Februarie vanjaar 'n brief aan die Wes-Kaapse minister van plaaslike regering, Anton Bredell, gerig. Ook daarop is daar volgens haar nog geen reaksie ontvang nie.
"Ons wil nie moeilik wees nie, ons wil net hê my ouma en oupa se wense moet gerespekteer word. Ons het immers reeds vir die graf betaal," het sy gesê.
Navrae is aan die Kannaland-munisipaliteit sowel as Bredell se kantoor gerig, maar teen druktyd is nog geen terugvoer ontvang nie. Oudtshoorn Courant probeer om die familie van die oorledene, wat tans langs Willem Herandien begrawe is, op te spoor.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’